Verdagte, polisiehond dood op toneel

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

ʼn Verdagte is Vrydag doodgeskiet en twee is beseer by ʼn misdaadtoneel waar ʼn polisiehond doodgery is.

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê die voorval het die oggend op die N3-snelweg naby Marketweg in Pietermaritzburg plaasgevind.

“Die polisie het inligting ontvang rakende ʼn verdagte Toyota Quantum met drie insittendes wat in ʼn suidelike rigting op die snelweg gery het. Die polisie het bystand van die honde-eenheid ontbied en gepoog om die Quantum tot stilstand te dwing. ʼn Skietery het uitgebreek waartydens ʼn 23-jarige verdagte noodlottig gewond is,” het Mbele gesê.

Nog ʼn verdagte is geskiet en gewond en die ander verdagte het probeer vlug.

Mbele het gesê een van die polisie se honde, Brynmore, het voor ʼn verbygaande vragmotor beland nadat hy die verdagtes platgetrek het en is op die toneel dood. Die verdagte is deur paramedici vir bytwonde aan sy arm en been behandel.

“Binne die Quantum het die polisie dele van geslagte beeste en twee beeskoppe gevind en daarop beslag gelê.”

Die twee verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die eenheid vir georganiseerde misdaad gaan die saak verder ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gertryda ·

Hoe kon n vragmotor hom doodry
Die snelweg was toe
Ons nuus sê hy is geskiet
Jammer ou honne RIV

M'Lady ·

Rus in vrede Brynmore. Jy het jou beste gegee. Jou aardse taak is afgehandel.

Cherokee ·

M’Lady, ek lief jou woorde wanneer jy vir Brynmore sê sy/haar aardse taak is afgehandel. ‘n Predikantvriend het een aand tydens ‘n snoekerspel in ons gesels genoem dat daar nêrens in die Bybel vertel word dat diere nie ook Hemel toe gaan nie. Dit was twintig of meer jare gelede! Barry, miskien het jy dit al vergeet! Sien jy hoe lank waardevolle woorde onthou word! Mag God jou seën!

Katerina ·

Ai so hartseer..Rus sag arme Brynmore..my hart is baie seer.Medelye aan sy eienaar.

leser ·

pragtige optrede deur die polisie
tragies dat een van die honde dood is

Frans ·

Was nie net n hond nie maar n lid van die SAP en kameraad sterkte aan die hanteerder wat n kollega verloor het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.