Verdagte sê hy is aangerand ‘om skuld te beken’

Stanley Lingena (links) en Sithembiso Hlongwane (regs). (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die tuinier wat daarvan beskuldig word dat hy Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat Michael Zantow (64) in 2021 in Sasolburg vermoor het, beweer dat verskeie polisielede hom “herhaaldelik” ná sy inhegtenisneming aangerand het.

“Ek is aangerand om te erken dat ek iets gedoen het wat ek weet ek nie gedoen het nie,” het Stanley Lingena (38) Maandag gesê.

Lingena en sy medebeskuldigde, Sithembiso Hlongwane (28), het Maandag in die rondgaande hof op Parys verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van onder meer diefstal en moord.

Die verhoor het in November verlede jaar begin en is vandeesweek voortgesit.

Lingena het sy weergawe van gebeure tydens die naweek van die paar se gru-dood aan die hof voorgehou.

Die beskuldigde se werknemer, Zantow, is tussen 20 en 22 Augustus 2021 by sy oorlede ma se huis oorrompel, aangerand en met ʼn byl vermoor. Skaars 300 m verder is sy lewensmaat, Liebenberg, by hul eie huis oorrompel en vermoor. Haar hande en voete is met onder meer elektriese draad vasgebind.

Hul liggame is onderskeidelik Sondag en Maandag by die twee verskillende huise aangetref.

Polisielede het Lingena later dieselfde dag in een van Zantow se motors, ʼn wit Volkswagen Jetta, voorgekeer. Hy het op die vlug geslaan en is nie dadelik aangekeer nie.

Die polisie voer aan dat die beskuldigde die motor gesteel het en hulle om dié rede dadelik opgetree het toe dit ná die voorval op Sasolburg opgemerk is. Lingena voer egter aan dat Zantow die voertuig aan hom geleen het.

Volgens Lingena het hy die betrokke dag verbouereerd geraak toe “mans in ʼn motor” langs hom stilgehou en skote op hom afgevuur het.

“My eerste instink was om uit die motor te spring en te vlug. Ek het nie geweet wat aangaan nie, net dat ek by veiligheid moet kom en myself beskerm,” sê hy.

Lingena het later die aand by sy huis by ʼn informele nedersetting aan die buitewyke van Sasolburg aangekom. Volgens hom het hy sleg gevoel omdat hy Zantow se motor agtergelaat het, aangesien hy beloof het om dit op te pas.

Hy beweer dat hy die volgende oggend, Maandag, die voorval by die polisie sou gaan aanmeld, maar polisiebeamptes het by sy huis opgedaag en hom in verband met die moord op Zantow aangekeer voordat hy dit kon doen.

Volgens Lingena is hy in daardie stadium die eerste keer deur ʼn polisiebeampte aangerand.

Hy het aangevoer een van die beamptes het hom met die plat hand op die gesig geslaan. Hoewel dit nie ʼn merk gelaat het nie, sê hy dat dit seer was.

Nadat sy huis deursoek is, is hy geboei en na die huis geneem waar Zantow se liggaam gevind is.

“Terwyl ek ondervra is, is ek deur nog twee polisiebeamptes aangerand,” sê Lingena.

“Ek is herhaaldelik oral oor my lyf geskop en daar is vir my gesê ek lieg en dat ek liefs die waarheid moet praat.”

Lingena beweer dat die ondersoekbeampte in die saak, konst. Chrissie van der Linde, selfs in een stadium haar hakskoen gebruik het om hom oor die kop te slaan.

“Ek het nog vir die beamptes gesê dat hulle my vra om vir hulle antwoorde te gee op goed wat ek nie weet nie,” sê hy.

Lingena voer aan hy is later dieselfde dag deur polisielede na ʼn veld geneem waar hy met ʼn pyp op die knie geslaan is. Lingena is na die betrokke veld toe omdat hy gesê het dit is waar hy van die moordwapens ontslae geraak het. Lingena beweer egter dat hy dit vir die beamptes gesê het sodat hulle hom nie weer slaan nie.

“Ek het eers later, toe ek in die selle was, besef hoe seer my lyf was ná al die aanrandings.”

Lingena het glo steeds pyn in een been ná die beweerde aanrandings.

Volgens Lingena is hy vir die vierde keer aangerand nadat hy sy eerste verskyning in die landdroshof gemaak het. ʼn Beampte, wat glo ʼn getuie in die saak is, het dit gedoen, voer Lingena aan. Die vermeende betrokkene se naam is nie genoem nie.

Lingena het toegegee dat hy geen mediese behandeling vir enige van die aanrandings ontvang het nie en ook nie die voorvalle aangemeld het nie.

Hy het verlede jaar al onskuldig op al die aanklagte teen hom gepleit.

Dit het intussen aan die lig gekom dat hy en Hlongwane egter hul skuld teenoor ʼn medegevangene beken het nadat hulle in hegtenis geneem is.

Lingena het Maandag in die hof gesê dat hy Zantow nie net gesien het as ʼn werkgewer nie, maar ook as ʼn pa.

“Hy het die rol van ʼn pa vervul wat my eie pa nooit nagekom het nie,” het hy gesê.

Die verhoor word Dinsdag voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit klink na ‘n wolhaarstorie as iemand op my skiet gaan ek dit dadelik by die polisie aanmeld ,nie dat ek enige vertroue in die polisie het nie maar ek sal dit nogtans aanmeld,en as die polisie my aanrand sal ek ‘n mediese verslag kry en dit by die hof rapporteer.

Jakes ·

Ek sou graag n polisieman wou wees wat hierdie gemors wou ondervra. N hakskoen of n pyp sal soos kinderspeletjies lyk.

blia ·

Dit moet seker wees die beskuldigde se werkgewer, nie werknemer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.