Verdagte ses jaar ná moord aangekeer

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man het Maandag in die Parow-streekhof verskyn in verband met die moord op Hester Roberts (70), wat meer as ses jaar gelede in haar huis in Monte Vista in Kaapstad vermoor is.

Andile Gobo (27) het op aanklagte van moord, gewapende roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te roof, voor landdros Constance Nziweni verskyn. Gobo se medepligtige, Thulani Mtoto, is reeds twee jaar gelede op dieselfde aanklagte skuldig bevind en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Mtoto het later appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis aangeteken, maar dit is deur die Wes-Kaapse hooggeregshof geweier.

Volgens adv. Daniel Cloete, die staatsaanklaer, het Gobo en Mtoto op ʼn Vrydagaand in Augustus 2010 by Roberts se huis ingebreek. Roberts se seun het haar vir aandete by sy huis verwag en onraad vermoed toe sy nie opdaag nie en ook nie haar telefoon beantwoord het nie. Hy het na haar huis gegaan, waar hy die voordeur oop gevind het, die huis omgekeer en haar liggaam op die vloer met ʼn kledingstuk in haar mond gedruk.

ʼn DVD-speler en juweliersware is uit Roberts se huis gesteel.

Die landdros het Gobo se regte Maandag aan hom verduidelik en gesê hy is geregtig daarop om ʼn regsverteenwoordiger aan te stel of sy “eie praatwerk” sonder regsverteenwoordiging te doen. Gobo het gekies om vir homself te praat. Die landdros het hom gewaarsku die aanklagte teen hom is baie ernstig en dat dit in sy beste belang sal wees om eerder ʼn regsverteenwoordiger te kry, maar Gobo het volgehou dat hy homself sal verteenwoordig.

Nziweni het daarna gesê sy sal eerder die saak uitstel om Gobo kans te gee om oor die saak te dink. “Ek raai jou ten sterkste aan om eerder regsverteenwoordiging te kry, ongeag of jy dink jy is onskuldig,” het sy gesê.

Gobo het daarna aangedui dat hy regshulp wil aanvra en die saak is uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Die wiel draai stadig maar gaan een of ander tyd stop, sy dade het hom nou ingehaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.