Verdagte skiet hom glo in kop toe polisie toeslaan

Die voertuig is glo kort tevore gekaap. (Argieffoto: Hansie Linde)

ʼn Verdagte is dood nadat polisiebeamptes in die Oos-Kaap hom agternagesit en die man glo homself in die kop geskiet het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die Alfred Nzo-hoofwegpatrollie het Saterdagoggend inligting oor ʼn blou Ford Fiesta ontvang wat glo in Msobomvu gekaap is.

Die voertuig was op pad in die rigting van Mount Ayliff. Lede van die hoofwegpatrollie het die N2 Saterdag omstreeks 07:00 dopgehou, toe hulle ʼn voertuig opgemerk het wat aan die beskrywing van die gekaapte voertuig voldoen.

“Nadat hulle die voertuig voorgekeer het, het twee mans – een gewapen met ʼn vuurwapen – uitgespring en in verskillende rigtings begin hardloop.

“Die polisie het versterkings ontbied en die verdagtes te voet agternagesit,” sê Naidu.

Lede van die Mount Ayliff-polisie het ook by die soektog na die verdagtes aangesluit.

Terwyl hy gevlug het, het die verdagte met die vuurwapen op beamptes losgebrand, sê Naidu.

“Terwyl hulle hom genader het, het hy homself glo in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood. ʼn 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, is langs hom aangetref,” sê sy.

Die tweede verdagte (33) is aangekeer waar hy in ʼn toilet geskuil het. Hy word aangehou vir die besit van ʼn vermoedelik gesteelde voertuig.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen ná die dood van die ander verdagte en die vuurwapens sal vir forensiese ontleding gestuur word.

Brig. Asogran Naidoo, waarnemende bevelvoerder van die Alfred Nzo-distrik, het die polisie vir die goeie samewerking tussen die eenhede geloof.

“Die spanwerk tussen die hoofwegpatrollie en Alfred Nzo-lede is ʼn waardevolle bydrae tot ons pogings om triomisdade, wat voertuigkapings insluit, te stuit,” sê Naidoo.

Volgens hom gaan die polisie voort om te verseker dat inwoners nie net veilig voel nie, maar ook veilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cy ·

Die vuurwapens sal vir forensiese ontleding gestuur word is net soos n verkiesings belofte..Niks sal gebeur nie want hulle is jare agter met die ontleding !!

Belinda ·

Ek wonder net hoekom sou hy homself doodskiet? .. miskien was hy betrokke in iets erger as net voertuig diefstal.

Sarel ·

Geen Borg of Parool vir hom.nie…maar…
” Hoofwegpatrollie” nie geweet dit bestaan nog nie
Word nooit opgemerk nie
.

Baardman ·

Daar spaar hy die belastingbetaler n klomp geld aan hofkostes

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.