Niemand is al in verband met die rooftog by Mediclinic Durbanville in die Wes-Kaap vasgetrek nie. Besoekers en familielede van pasiënte is Donderdagaand van hul kosbare besittings beroof.
Dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic Suider-Afrika, het bevestig dat ’n verdagte Donderdag omstreeks 19:00 toegang tot die hospitaal verkry het.
“Die verdagte was gewapen, maar ’n ooggetuie het later vasgestel dat dit ’n speelgoedgeweer (BB gun) was,” sê De Villiers.
Volgens ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, was ’n 38-jarige vrou besig op haar selfoon toe die gewapende man dit by haar gebuit het.
“Die verdagte het weggekom en in die proses ander besoekers in die hospitaal ook beroof,” bevestig Swartbooi.
Owerhede is dadelik na die fasiliteit ontbied en Mediclinic werk nou saam met die polisie met die ondersoek.
Niemand is tydens die rooftog beseer nie en die nodige ondersteuning en berading sal aan diegene wat deur die voorval geraak is, gebied word, sê De Villiers.
Die motief vir die rooftog word ondersoek en die verdagte is nog nie vasgetrek nie.
Die polisie in Durbanville ondersoek ’n saak van gewapende roof. Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.
Volgens De Villiers het die hospitaal bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel om die veiligheid van almal in die fasiliteit te verseker.