Verdagte sterf ná polisieman se moord, 4 in hof

Drie van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Drie van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Vier van die agt mense wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn konstabel in Limpopo verskyn Donderdag in die hof.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê uit die agt verdagtes wat Dinsdag in hegtenis geneem is, is net vyf van hulle positief met die rooftog en skietery op konst. Vincent Mhangwani verbind. Die verdagtes wat in die skietgeveg Dinsdagoggend gewond is, het intussen aan sy beserings in die hospitaal beswyk.

Die vier verdagtes sal in die Giyani-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, sakeroof en die besit van onwettige vuurwapens.

Maroela Media het vroeër berig Mhangwani (38) is doodgeskiet nadat ʼn groep gewapende verdagtes Dinsdagoggend vroeg ʼn kruidenierswarewinkel in Giyani beroof het. By die polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes reeds gevlug.

Die polisie het die gebied deursoek en op ʼn verdagte voertuig op die pad wat na Phalaborwa lei, afgekom. Die polisie het die voertuig gedwing om stil te hou, waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het waarin Mhangwani noodlottig gewond is.

Die verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet weggehardloop. Een van hulle is gewond en op die toneel in hegtenis geneem. Hy is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Die polisie het op twee vuurwapens, ʼn Toyota Quantum-bussie en drie selfone beslag gelê. Van die kruideniersware wat beroof is, is ook teruggevind.

Sewe verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het dat vyf verdagtes ʼn taxi na Polokwane geneem het. Hulle is by die Solomondale/Polokwane-wisselaar in hegtenis geneem nadat die polisie die taxi voorgekeer het.

Die ander twee mans is deur lede van die gemeenskap in Giyani vasgetrek. Die verdagtes is tussen 26 en 30 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.