Verdagte tydens kleinhoewe-aanval doodgeskiet

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Familielid het Vrydag in die vroeë oggendure tot die redding van sy bejaarde oom gekom tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe buite Pretoria.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die Cullinan-polisie, het aan Maroela Media gesê drie onbekende mans, gewapen met messe, het toegang tot die man se huis op ʼn kleinhoewe in die Rooikoppies-omgewing, oos van Pretoria, verkry. Dit was omstreeks 03:00 en die man het geslaap.

“Die verdagtes het die man vasgebind en begin om die huis te plunder. Die slagoffer se broer- of susterskind wat in ʼn ander huis op dieselfde hoewe woon, het egter tot die bejaarde man se redding gekom. Hy het spoedig na buite gegaan om ondersoek in te stel toe hy die honde hoor blaf het, waarna die verdagtes met huisware weggehardloop het,” het Moganedi gesê.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig een verdagte is tydens die voorval doodgeskiet. “Die omstandighede rondom die skietery word nog ondersoek,” het hy gesê.

Die polisie, met die hulp van die honde-eenheid, het later elektriese toestelle teruggevind wat ʼn paar meter van die slagoffer se huis agtergelaat is. Die ander verdagtes is steeds soek.

Genl.maj. André Wiese, bevelvoerder van die Tshwane-Oos-polisiëringsgebied, het dié en ander plaasaanvalle veroordeel en polisiebeamptes aangemoedig om pogings te versterk om dit te bekamp.

Wiese het die polisiëringsgebied se triotaakspan bedank vir die vorige inhegtenisnemings van plaasaanvallers en hulle aangemoedig om met hul harde werk voort te gaan. Hy het bygevoeg hy hoop dié verdagtes word gou aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Al ·

Spaar jul energie vd inbraak. Ñ Verdagte wat 3 uur die oggend by jou huis doodgeskiet word, het in elk geval nie daar gehoort nie.

Johann ·

Hoor al die ANC en EFFers… hoe KAN daar op hulle ontplooide voorheen benadeeldes geskiet word? Hulle doen elkgeval net wat hulle voorgese wors hulle REG is! Vat en breek en brand en moor wie en waar en hoe hulle wil… VERRASSING! Ons gaan nie so maklik stilbly en niks dien nie!

christa ·

nogal goeie stukkie werk. Dis onnodig dat ou mense so behandel word.

Wees altyd gereed ·

Ons moet heeltyd gereed wees vir aanvallers op onsself en ons bure.

Ansie ·

Het nie meer woorde nie …. dink nie ons sal hul bejaarde ouers so afmaai nie????

P ·

Ja, want al word hulle gevang na ‘n moord gaan daar hoeveel maande verby voordat die saak voorkom. Na my pa en stiefma se moord het al 14md verloop en ons het nog niks weer gehoor nie

Marianne ·

Dankie vir die familie lid wat sy oom se lewe gered het. Meer jong mense of werklose blankets moet “aangeneem” word en by woners op plase word sodat hulle kan help om die boere te beskerm.

Darksider ·

Was plaas beveiliging nie vroëer deel van die SADF se komandoes nie? Voel ons word berei vir ń………..wil nie eers daaraan dink nie. Ontwapen, ontsê, ont’God’ en so kan ek voort gaan. Van my ń helde salut aan almal wat opstaan teen *HAAT*

Siek en sat ·

Ja dink dit was Burgermag. Maar dis ontbind. Nee jong vandag se tyd vertrou jy niemand nie. Boereoet begin om ‘boobytraps’ om hulle huise op te rig sodat die aanvallers in n strik trap of gat val of so iets. Kan nie so aangaan nie.

Leon ·

Nog n aanval hier nog n plaasmoord daar!!! Allerdaagse dinge in hierdie land!!! Mense ek kan nie meer hier bly nie! As jy kan gaan en maak heenkome elders net nie in Afrika nie. Sit n plan in plek en trek as jy kan. Of bery jou huis en omstandighede so voor asof jy gereed maak vir oorlog! Dis n realityd. Dan moet ek my kinders so laat leef.

Des ·

Verstaan nie hoe hy verdagte kan wees as hulle besig was met roof en man met mes aan geval het nie. Nou is die arme man wat hom geskiet het die beskuldigde. Moet net nie kom en se die rower is onskuldig tot deur hof skuldig bevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.