Verdagte tydens rooftog doodgeskiet

(Foto: SA Polisie)

ʼn 23-jarige man is Donderdag naby Tonga, Mpumalanga dood tydens ʼn skietery met die polisie. ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem en ʼn derde verdagte het gevlug.

“ʼn Groep van drie gewapende mans het ʼn winkel in Mangweni bestorm. Hulle het met kontant en lugtyd-geskenkbewyse van die toneel gevlug,” sê kapt. Gugu Phiri, woordvoerder van die polisie. “Die polisie het vinnig reageer en hulle het die verdagtes opgemerk. Een van die verdagtes was gewapen en ʼn ander het ʼn sak by hom gehad.”

Die polisie het hulle agternagesit en die verdagte, met die vuurwapen, is doodgeskiet. Die man met die sak, ook ʼn 23-jarige man, is in hegtenis geneem. Beamptes het op die toneel beslag gelê op die vuurwapen en die sak met vermoedelik gesteelde items.

“Die polisie is nog op soek na die derde verdagte. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, Bongani Mahlangu, het Vrydag in die Nkomazi-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot 5 Januarie vir ʼn formele aansoek om borgtog.”

Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat nog persone in verband met die rooftog in hegtenis geneem sal word nie.

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) sal die skietery ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.