Verdagte vas danksy flink plaasbestuurder

Argieffoto

ʼn Parate plaasveiligheidsbestuurder se vinnige optrede het daartoe gelei dat ʼn vermeende inbreker die afgelope naweek in hegtenis geneem is nadat hy met gesteelde goedere in sy besit betrap is.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, het gesê die bestuurder het die verdagte naby Bathurst sien stap met ʼn swart reistas en ʼn grys sak wat skynbaar vol goed was. Die bestuurder het onraad vermoed en die verdagte genader.

“Hy het op twee monitors, ʼn DVD-speler, DVD’s en baie ander toerusting in die sakke afgekom. Die polisie is ontbied en het vasgestel dat daar by ʼn plaashuis in die omgewing ingebreek is. Al die eiendom is aan die verheugde eienaar terugbesorg,” het Govender gesê.

Die verdagte is in hegtenis geneem en sal Dinsdag in die Port Alfred-landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak.

Die verdagte is een van vyf verdagtes wat die afgelope naweek in die Port Alfred-omgewing in hegtenis geneem is in verband met huisbrake in die gebied. Vier verdagtes, almal in hul 20’s, is Sondag in hegtenis geneem in verband met ʼn reeks inbrake by huise in Kenton on Sea.

Gesteelde eiendom ter waarde van R54 000 is teruggevind en aan die eienaars terugbesorg. Volgens Govender word een van dié verdagtes ook vermoedelik verbind met huisbrake wat deur die loop van 2017 in die omgewing plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

ń Mens kan deesdae nie waag om net gou kafee toe te gaan sonder dat daar in jou afwesigheid by jou eiendom ingebreek word. Miskien is dit maar beter dat ń mens hulle nooit in die hande kry nie want ń mens kan dalk onverantwoordelik raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.