Verdagte vas in soektog na vermiste Klawer-seun

(Argieffoto: Hansie Linde)

ʼn Verdagte is aangekeer in die polisie se soektog na ʼn 13-jarige seun van Klawer wat vroeër verdwyn het.

Die vermiste kind is glo daarvan beskuldig dat hy Woensdag vrugte by die 56-jarige man se huis in Klawer gesteel het. Die man het hom daarna glo agternagesit en die kind is sedertdien nie weer gesien nie.

“Die ondersoek het speurders gistermiddag na die verdagte se huis gelei waar menslike oorskot in ʼn rioolpyp op die perseel gekry is,” sê kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder.

“Die slagoffer se liggaam is nog nie gevind nie en dit is te vroeg om te bespiegel oor die identiteit van die oorskot wat gevind is.”

Volgens Traut is die ondersoek nog nie afgehandel nie. Forensiese kenners ontleed ook steeds die misdaadtoneel op soek na meer leidrade.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die landdroshof op ʼn aanklag van moord verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.