Verdagte vas, kontant in emmers gevind ná geldwa-roof

Die geldwa wat beroof is (Skermskoot: Disco DICE, Twitter)

Van die kontant wat Saterdag tydens ʼn geldwa-rooftog in Bloemfontein gesteel is, is die volgende oggend teruggevind toe een van die rowers vasgetrek is.

ʼn G4S-geldwa was Saterdag omstreeks 10:30 besig by ʼn kitsbank by ʼn winkelsentrum in Moshoeshoestraat in Rocklands toe gewapende rowers op die voertuig toegeslaan het.

“Die rowers het die veiligheidswagte oorrompel en hul vuurwapens afgeneem. Hulle het met ʼn geldhouer gevlug en skote afgevuur,” het kapt. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, gesê.

Daar is tydens die voorlopige ondersoek vasgestel dat die rowers drie voertuie in die aanval gebruik het.

Die leë geldhouer is later die dag naby die Tebelelo Primary School teruggevind.

ʼn Soektog na die rowers en gesteelde geld is deur ʼn multidissiplinêre span van die polisie van stapel gestuur.

Een van die vermeende rowers (50) is Sondagoggend in sy huis in die Rocklands-nedersetting aangekeer. Sy huis is deursoek en ongeveer R15 000 kontant is in emmers in ʼn slaapkamer gevind.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Nie baie slim nie…ha haha

JM

Geweld, aanranding, roof, verkragting, leuens: die nuus, ELKE dag, in Suid-Afrika. Ons weet nie meer wat goeie, positiewe nuus is nie. Ons is moeg, moedeloos, in der dagen sat! Sal dit ooit weer beter gaan?

Persheks Adri

Hierdie “silly season” kan ek nie hanteer nie! Ek hoop nie die knaap kry borg nie en sê waar sy maaitjes is. Elke dag dieselfde nuus party dae net erger

Duck

Jip, same old news, net plekke en name verander

JohanR

My neef het toe hy nog ‘n kind was (die 60’s) die trein spoor naby hulle huis geloop, en ‘n plastiek sak met heelwat geld in op die spoorlyn gekry. Wat is die kanse as ek ‘n loopie in die bosse vat, dat ek ‘n emmer/s met geld sal teekom?