Verdagte vas ná gru-moord op ma, kinders

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie in Mpumalanga het ʼn verdagte in hegtenis geneem in verband met die onlangse moord op ʼn ma van Piet Retief en haar drie kinders.

Die gesinslede is vermoedelik met ʼn byl doodgekap voordat die polisie Vrydagaand op hul verminkte liggame in hul huis afgekom het.

Volgens die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid is ʼn verdagte sedertdien aangekeer. Die verdagte sal Maandag in die Piet Retief-landdroshof verskyn.

Die waarnemende LUR vir gemeenskapsveiligheid, Speedy Mashilo, het Sondag tydens ʼn besoek aan die huis die polisie vir hul vinnige reaksie geloof.

“Die pogings van die polisie tot dusver sal baie help om te verseker dat geregtigheid geskied. Hoewel ons nie die slagoffers kan terugbring nie, sal die families van die slagoffers berusting kan vind sodra diegene wat verantwoordelik is gestraf word,” het Mashilo voor die huis gesê.

Die LUR ook die besorgde familielede bedank wat die polisie ontbied het nadat hulle die slagoffers dae laas gesien het.

Maroela Media het vroeër berig die familielede kon ʼn geruime tyd lank nie die ma in die hande kry nie en het eindelik besluit om die polisie se hulp in te roep. Polisiebeamptes is toe na die huis om ondersoek in te stel.

Die huis was gesluit.

Polisiebeamptes het noodgedwonge die deur oopgebreek en dit is toé dat hulle op die gesin se lewelose liggame afgekom het.

Daar is nog geen besonderhede rakende die verdagte bekend gemaak nie.

Mashilo het wel gesê dit is betreurenswaardig dat vroue en kinders dikwels om die lewe gebring word deur dié wat veronderstel is om hulle te beskerm.

“Geslagsbaseerde geweld is ʼn maatskaplike aangeleentheid wat vereis dat ons almal saamwerk. Dit gebeur agter geslote deure, en die polisie reageer eers nadat dit gepleeg is. Ons sal as regering voortgaan om verskeie programme te implementeer wat daarop gemik is om vroue en kinders beter te beskerm,” het die LUR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die wreedhede getuig duidelik dat ons nie almal dieselfde is nie.

Aggie ·

Ja, ek stem saam. Hoe sal ons ooit hierdie verrotting kan omdraai?

Truth2bfree ·

Siek wereld waarin ons lewe.
Darem ‘n wonderlike vooruitsig om eendag op ‘n nuwe aarde te lewe met ‘n nuwe hemel.
Openbaring 21

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.