Verdagte vas ná jong man se dood by nagklub

Shane Boruchowitz. Foto: Facebook

Shane Boruchowitz. Foto: Facebook

ʼn 38-jarige man sal Maandag in die hof verskyn vir die moord op Shane Boruchowitz (23) wat Donderdag in die vroeë oggendure dood is tydens ʼn onderonsie by ʼn bekende nagklub in Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig Boruchowitz was Woensdagaand saam met sy broer, Brendan (19), en ʼn groep vriende na Ty’s Nightclub in Menlyn Square in die ooste van Pretoria. Toe die groep omstreeks 01:00 die klub verlaat het, het ʼn bakleiery glo tussen twee ander klubgangers en Shane se vriende uitgebreek. Uitsmyters het glo op die groep toegesak, hulle begin slaan en Shane is twee keer met ʼn mes gesteek. Hy is op die toneel dood.

Kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die man sal in die Pretoria-streekshof verskyn op ʼn aanklag van moord. Mofokeng wou nie bevestig of die verdagte ʼn uitsmyter by die nagklub is nie. “Al wat ek in hierdie stadium kan sê, is dat ons iemand in hegtenis geneem het. Ons sal sy naam bekendmaak sodra hy in die hof verskyn het,” het hy gesê.

Gene Kotton, ʼn privaat speurder wat deur die familie genader is om die saak te ondersoek, het egter aan Maroela Media bevestig dat die beskuldigde wel ʼn uitsmyter by die klub is.

“Soos ek verstaan, kon daar op beeldmateriaal wat vanaf die sekuriteitskameras verkry is,  gesien word hoe hy vir Shane slaan,” het hy gesê. “Hy is nie die een wat vir Shane met die mes gesteek het nie, maar hy is eintlik in groter moeilikheid, want die nadoodse ondersoek toon dat Shane dood is weens kopbeserings. So, die houe wat hy vir Shane gegee het, het eintlik sy dood veroorsaak en nie die meswonde nie.”

Kotton het gesê hy verneem die ander uitsmyter wat Shane na bewering gesteek het, werk nie by Ty’s Nightclub nie, maar by ʼn ander kuierplek in Menlyn Square. Hy sal na verwagting ook binnekort in hegtenis geneem word.

Jannie Oosthuizen, die eienaar van die nagklub, kon nie Maandagoggend vir kommentaar bereik word nie.

Boruchowitz, ʼn student by Varsity College, is Vrydag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Die eienaar van die plek is verantwoordlik vir die besoekers se veiligheid .

pop ·

Die eienaar is nie verantwoordelik vir mense buite op straat nie. En hoekom slaan die uitsmyter mense wat al buite is, hulle het mos nie binne baklei nie.

Hilla ·

Hoop dit is ‘n ordentlike les vir die moeilikheid makers en bouncers!!! ‘n Saak het meer as een kant maar hoop van harte dat geregtigheid geskied…

J ·

Het die familie nie n privaat speurder gehuur nie sou niemand inhegtenis geneem word nie.

Pernankie ·

Dis al wat die groter meerderheid van die lot bouncers is, ‘n klomp boelies wat dink hulle het papiere om links en regs mense te voeter soos hulle wil! Hierdie is nie die eerste of laaste voorval in die verband nie, glo my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.