Verdagte vas ná man se skietdood op plaas

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn 30-jarige verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn bejaarde op ʼn plaas by Creighton, suid van Pietermaritzburg.

Drie aanvallers het Peter Scott (66) Saterdag op die plaas Lyn Avis doodgeskiet en sy vrou vasgebind voor hulle met skootrekenaars, selfone en nog items op die vlug geslaan het.

Die polisie van Creighton en Ixopo het Dinsdag die 30-jarige verdagte in sy woonplek aangetref met ʼn vuurwapen met ses patrone by hom sowel as sommige van die items wat by die slagoffers gesteel is, onder meer hul selfone. Hy kom binnekort in die plaaslike landdroshof voor.

Die vuurwapen waarop die polisie beslag gelê het se reeksnommer is afgevyl. Dit sal weggestuur word vir ballistiese toetse om vas te stel of dit tydens die moord gebruik is. Die polisie sê hulle soek na die ander twee verdagtes.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisie en ander veiligheidsagentskappe geloof vir hul volgehoue pogings om die verdagte in hegtenis te neem.

“Die polisie sal nie rus terwyl mense in hul eie huis deur gierige misdadigers om die lewe gebring word nie,” het hy gesê. “Ons sal hulle opspoor en verseker dat hulle voor die hof gebring word om verantwoording te doen vir hul misdade.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

alida ·

Ek weet die doodstraf sal NOOIT teruggebring word nie en wil nie verder karring daaroor nie. Miskien moet Bheki Cele net in daardie rigting praat en kyk of hierdie sinnelose moorde nie sal ophou nie.

Pro-Aktief ·

Generaal, waarom fokus u op inhegtenisname? Waarom fokus u nie op voorkoming nie? Op strategiese vlak. Is dit onbeholpenheid?

Cherokee ·

Skielik dink ek daaraan dat vuurwapens se nommers ook op ‘n wegsteekplek aangebring moet word. ‘n Motor se registrasienommer is ook op sy ruite. ‘n Vuurwapen s’n kan binne in die raam bv kolfgedeelte, aangebring word waar dit nie verwyder kan word sonder om die wapen buite werking te stel. Ek hoop iemand wat betrokke is by wapenvervaardiging lees hierdie voorstel.

Elsa ·

Pro-Aktief, verduidelik asseblief hoe kan die polisie misdaad en plaasmoorde voorkom? Hulle kan nie mense se gedagtes lees en weet van plaasmoorde of aanvalle wat beplan word nie, tensy iemand die poisie vooraf waarsku nie. Beveiliging van ons huise, persele of plase is ons eie verantwoordelikheid. Hoeveel kere is daar nie op mense beroep gedoen om meer paraat te wees nie. Ek is self skuldig daaraan, want ek dink ek lewe in ‘n area waar ernstige misdaad nie eintlik voorkom nie. Hoe kan ek die polisie kwalik neem as ek aangeval sou word en ek self het niks gedoen om myself te beveilig nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.