Verdagte vas ná moord by kliniek

Eastridge-kliniek. Foto: Skermskoot/Google Maps

ʼn Verdagte is in hegtenis geneem ná Maandag se noodlottige skietery by die Eastridge-kliniek in Mitchells Plain.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het die polisie geloof vir hul vinnige optrede.

ʼn 23-jarige pa is omstreeks 10:00 voor ander pasiënte by die kliniek doodgeskiet, het EWN vroeër berig. Hy en sy vriendin was glo by die kliniek om hul baba te laat inent. Die skieter het glo met ʼn bromponie by die kliniek opgedaag, die jong pa doodgeskiet en op die vlug geslaan.

Volgens Smith is die verdagte Dinsdag in hegtenis geneem en sal hy binnekort in die hof verskyn. Die voorval is glo bendeverwant.

“Dit is ʼn skrale troos vir die slagoffer se familie en die personeel en pasiënte wat getraumatiseer is deur die voorval, maar ons hoop dat dit as ʼn waarskuwing sal dien aan ander wat dink hulle kan straffeloos optree en die lewens van onskuldige mense in gevaar stel.”

Smith het ʼn beroep gedoen op die direktoraat vir openbare vervolging om die swaarste moontlike straf te versoek wanneer die verdagte vervolg word.

Volgens Smith het die kliniek intussen weer vir die publiek geopen en is bykomende personeel gekry om te verseker dat daar dienste is. Hy het gesê personeel het ná die voorval berading en ondersteuning ontvang.

Smith het gesê die voorval het opnuut veiligheid by klinieke in die soeklig geplaas. “Ons sal weer kyk na veiligheidsmaatreëls by die kliniek, maar dit moet ook gesê word dat daar nie veel gedoen kan word wat as ʼn afskrikmiddel sal dien om ʼn gewaagde aanval soos Maandag gesien is te voorkom nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Diefie ·

Hoe hartseer is dit nie, dat jy selfs nie eers veilig is by ‘n kliniek nie. Daar net een manier om hierdie moorde te stop, bring die doodstaf terug.!

Boerseun ·

n Jong bende lid en pa, ……………. Wat het die oorledene gedoen om n bendelid te word?

Die Verlore Skaap ·

Wat se geskietery en mes stiekery is dit nou weer ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.