Verdagte vas na moord op jong veearts

Dr. Natheem Jacobs (27). (Foto: Facebook / Kaap die Goeie Hoop-DBV)

ʼn 38-jarige verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn jong veearts van Athlone in die Wes-Kaap.

Dr. Natheem Jacobs (27) is op 2 Maart kort na middernag buite sy huis in Lady Maystraat in Athlone doodgesteek deur booswigte wat glo probeer het om tydens beurtkrag die bande van sy vrou se voertuig af te steel.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, is die verdagte Maandag in hegtenis geneem en sal hy na verwagting Woensdag in die hof verskyn.

Jacobs, wat onlangs as ʼn veearts gekwalifiseer het, het kort voor sy dood by die DBV aangesluit. Hy het sy kontrak ʼn dag voor sy dood onderteken. Hy het vroeër sy gemeenskapsdiens by die Wingfield-dieregesondheidsentrum en die Kaap die Goeie Hoop-DBV gedoen.

Dr. Ayoub Banderker, ʼn DBV-raadslid en Jacobs se toesighouer, het vroeër gesê hy het dit geniet om saam met Jacobs te werk en dat hy baie “trots op hom” was.

Moyo Ndukwana, uitvoerende hoof van die Kaap die Goeie Hoop-DBV, het gesê Jacobs sal werklik gemis word.

“ʼn Diereheld het geval en ons almal se harte is stukkend. Ons sal dr. Jacobs egter eer op die beste manier wat ons kan – deur voort te gaan om die diere te help wat hy só liefgehad het.

“Hy was ʼn lewende voorbeeld van wat dit beteken om werklik vir diere om te gee. Sy dood is nie net ʼn verlies vir ons nie, maar vir dierewelsyn in die geheel.”

Jacobs word oorleef deur sy vrou, Imaan, en sy ouers, Zulyka en Ridwaan.

Die DBV sê hy hoop Jacobs se geliefdes sal berusting vind in die wete dat dié organisasie vir altyd deur Jacobs se passie vir sy werk en diere geïnspireer sal wees.

“Hy sal onthou word deur elke dier wat deur ons deure kom en sy toewyding aan hul welstand sal ons elke dag herinner waarom ons nooit die geveg teen dieremishandeling kan laat vaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

melaney ·

Ons sal een van die dae nie anders as reg in eie hande moet neem. Mense se lewens beteken niks meer nie.

Gert ·

Die dinge gaan veroorsaak dat goeie mense baie verkeerde dinge gaan begin aanvang op slim maniere.

Danie ·

Die vraag is of dit die moeite werd is om vermoor te word vir bande of enige ander aardse eiendom?Moet ons staan en toekyk hoe ons mense vermoor,verkrag word ons het hard gewerk om iets in die lewe te bereik.Waar die gemors kom en binne sekondes n lewe vat en eiendom beskadig.Dalk moet ons gereg in eie hande neem met die nodige versigtigheid daar geen polisie om dit te doen nie.

Linda ·

My seun het 11 Mei statistiek geword en ek het nie vertroue dat sy moord opgelos gaan word nie.

Sê maar net ·

So, so jammer om dit te hoor. Mag ons Hemelse Vader julle vertroos en versterk. Ons bid dat geregtigheid geskied en die skuldiges aangekeer en gestraf word.

Sê maar net ·

Laat geregtigheid geskied asseblief Vader, in Jesus naam. Versterk en vertroos asseblief sy vrou, Imaan, en sy ouers, Zulyka en Ridwaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.