Verdagte vas ná moord op metertaxibestuurder

Argieffoto.

’n Man is Vrydag in Oos-Londen in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n metertaxibestuurder vroeër die dag.

Volgens kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie, het die taxibestuurder (39) net voor 04:00 ʼn oproep ontvang om ʼn onbekende man op te laai. Die man wou glo van Vincent na Amalinda in die dorp vervoer word en die taxibestuurder se werkgewer het hom ook gebel en gemaan om die spesifieke kliënt te gaan oplaai.

Teen 06:00 het die taxibestuurder egter nie meer sy foon geantwoord nie en sy vriendin het sy werkgewer gebel om te sê dat hy nooit huis toe gegaan het of sy selfoon antwoord nie.

Die taxibestuurder se verdwyning is by die polisie aangemeld waarna die verdagte (27) enkele ure later in die vermiste taxi op die N2 naby Keibrug in Butterworth gewaar is. Die verdagte is voorgekeer waarna hy aggressief gereageer het en in ʼn bakleiery met die polisie betrokke geraak het, het Manatha gesê.

Gemeenskapslede het ingegryp en die polisie kon die man omstreeks 08:00 naby die Nciba-munisipaliteit in die Ngquthu-nedersetting in Butterworth in hegtenis neem.

Die liggaam van die taxibestuurder is op die agterste sitplek van die taxi aangetref. Hy het steekwonde aan sy lyf gehad, het Manatha gesê.

Die motief vir die moord is onbekend en dit is nie duidelik waar die taxibestuurder vermoor is nie.

Volgens Manatha sal die verdagte eerskomende Dinsdag in die Butterworth-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering en motorkaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.