Verdagte vas ná skietgeveg met polisie

Argieffoto: SAPD / Facebook

Die polisie in Magaliesburg het ʼn 53-jarige man in hegtenis geneem in verband met gewapende roof, die rig van ʼn vuurwapen en poging tot moord.

Die voorval het Sondag op die R563-pad by Hekpoort plaasgevind. Konst. Gloria Maswanganye, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 31-jarige vrou het omstreeks 17:00 Sondag van Rustenburg na Noupoort geryloop.

“ʼn Rooi Honda Ballade met drie mans daarin het haar opgelaai. Toe hulle die vrou se eindbestemming bereik, het die bestuurder aangebied om saam met haar te loop tot waar sy wil wees. Die bestuurder het skielik ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en dit op die slagoffer gerig,” het Maswanganye gesê.

Die verdagte het die slagoffer van haar handsak met haar ID-dokument, selfoon, kontant en klere beroof. “Sy het die polisie onmiddellik in kennis gestel van die voorval en daar is gevolglik beamptes na die toneel ontbied. Die polisie het die Honda op die R24 gesien en dit agternagesit. Die polisie kon daarin slaag om die voertuig van die pad af te trek by die R560-pad in die Hekpoort-gebied.”

Volgens Maswanganye het twee verdagtes uit die motor gespring en op die polisie losgebrand. “Die polisie het teruggeskiet. Twee verdagtes het in die bosse verdwyn en kon daarin slaag om te ontsnap. Beamptes het die derde verdagte vasgetrek.”

Maswanganye het die publiek gemaan om enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die ander twee verdagtes kan lei by die Hekpoort-polisiestasie aan te meld by 014 576 9100 of die Magaliesburg-polisiestasie by 014 577 5100.

Die polisie het lede van die publiek gewaarsku om nie die twee mans te konfronteer nie aangesien hulle gewapen is en as gevaarlik beskou word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sug ·

Hoe sal ek weet dit is hulle, om hulle nie te konfronteer nie. Weet die polisie dalk wie hulle is, dan kan hulle die name deurgee, en sal ons hulle nie konfronteer nie.

Eric ·

Hoe stel sy onmiddelik die polisie in kennis as hulle haar selfoon ook gesteel het…bietjie verdag.

Hasie ·

Jy is reg Eric, hierdie is ‘n baie snaakse storie. Niks ruim nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.