Verdagte vas ná student op kampus verkrag word

Die ingang na die Tweede Laan-kampus. Foto: NMU

ʼn Verdagte is Woensdagmiddag in hegtenis geneem nadat ʼn student van die Nelson Mandela-universiteit (NMU) Maandagaand op kampus verkrag en haar vriendin met ʼn skêr gesteek is.

Die inhegtenisneming kom ná twee dae se protesaksie op die kampus deur studente wat eis dat veiligheid by alle NMU-kampusse opgeskerp word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 25-jarige student en haar vriendin is Maandagaand in die rekenaarsentrum van die universiteit se Tweede Laan-kampus in Port Elizabeth deur ʼn onbekende man aangeval. Die studente is met ’n skêr gedreig en van hul selfone en beursies beroof. Een van die studente is met die skêr gesteek, terwyl die ander student glo verkrag is.

Die vreesbevange vroue is toe gedwing om ʼn rekenaarboks en skerm na buite te dra. Die aanvaller het die vroue gedwing om vir hom die gesteelde goedere oor die heining aan te gee voordat hy gevlug het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die 29-jarige verdagte is omstreeks 15:00 in Govan Mbeki-laan vasgetrek. Hy het glo probeer om die rekenaar te verkoop wat hy na bewering tydens die aanval op die twee studente gesteel het. Naidu het gesê een van die studente se selfoon is ook in die man se besit gevind.

Die verdagte is deur lede van die eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming en lede van die blitspatrollie in hegtenis geneem.

Volgens Naidu het die polisie onverpoosd gewerk om die verdagte op te spoor. Hy sal na verwagting Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.