Verdagte vas oor reeks taximoorde

’n 37-jarige verdagte wat met ’n reeks sterftes in die taxibedryf verbind word, is Maandag in Gauteng in hegtenis geneem. (Foto: Bongani Mbatha/ANA)

’n 37-jarige verdagte wat met ’n reeks sterftes in die taxibedryf verbind word, is Maandag in Gauteng in hegtenis geneem.

Die verkeerspolisie se ingrypingseenheid en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se openbare-orde-polisiëringseenheid het die verdagte in Katlehong in Ekurhuleni vasgetrek.

“Taxi-eienaars en -bestuurders in Gauteng het die afgelope ruk onder gewelddadige moorde gebuk gegaan,” sê Sello Maremane, die verkeerspolisie se woordvoerder.

Volgens hom word die verdagte spesifiek met ’n voorval in die Tshwane-omgewing verlede jaar verbind waartydens twee beamptes, onderskeidelik van die verkeerspolisie en die SAPD, beseer is en een persoon dood is.

“Die verdagte het ten tyde van sy inhegtenisneming ’n ongelisensieerde vuurwapen en patrone in sy besit gehad.

“Die ondersoek na ’n beweerde reeksmoordenaar in die taxibedryf duur in dié stadium voort.”

Die verdagte sal na verwagting eersdaags in die hof op aanklag van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ES ·

Die probleem is nie net die verdagte nie, die probleem is ook die ander taxi-baas wat hom aangestel het om sy kompetisie uit te moor.

Die hele taxi bedryf is een groot mafia vrot kol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.