Verdagte vas twee jaar ná kind (5) se moord, verkragting

Die vyfjarige Chantelle Makwena is in 2019 vermoor. (Foto: Twitter)

Die verdagte vir die moord op ’n vyfjarige dogtertjie van Rocklands naby Gqeberha (Port Elizabeth) in 2019 is Saterdag eindelik in hegtenis geneem nadat die DNS-uitslae hom met die moord en verkragting verbind het.

Die 24-jarige verdagte kon weens die agterstand met DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums die afgelope twee jaar nie in hegtenis geneem word nie.

Klein Chantelle Makwena van Withoogte se verminkte liggaam is in Augustus 2019 op ’n stukkende toilet in dié omgewing gevind nadat haar ma haar die vorige dag in die sorg van onder meer die verdagte gelaat het.

Die verdagte was ten tyde van haar moord en verkragting uit op borgtog in ’n ander verkragtingsaak.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê Chantelle se ma, Veronica Makwena (23), en die ma se 34-jarige suster het hul kinders op 2 Augustus 2019 omstreeks 19:00 in die sorg van die verdagte, sy vriendin en die vriendin se broer gelaat om by ’n vriend in die omgewing te gaan kuier.

Die twee vroue het omstreeks 22:00 teruggekeer en die voordeur by hul tuiskoms oop gevind. Daar was geen teken van die volwassenes óf die kinders nie.

Veronica het haar dogtertjie by die bure gaan soek maar sy was nie daar nie. Sy het toe aangeneem dat Chantelle na haar pa se huis is en onderneem om haar die volgende dag daar te gaan soek.

Veronica het op 3 Augustus weer na haar kind begin soek. Chantelle was nie by haar pa, Justin Manele, of haar ouma se huis nie en ’n ondersoek is van stapel gestuur.

Dit is toe dat Manele sy dogtertjie se halfkaal en verminkte liggaam op ’n stukkende toilet naby haar ma se huis in Withoogte aangetref het. Sy het ernstige beserings aan haar kop en gesig gehad.

Naidu sê lede van die gemeenskap het die verdagte die betrokke dag aangekeer en aangerand. Die polisie het die man uit vrees vir sy veiligheid weggeneem. Hoewel hy nie in daardie stadium vir die moord en verkragting in hegtenis geneem is nie, is DNS-monsters by hom geneem en weggestuur vir ontleding.

Die ondersoekbeampte in die saak het gister die forensiese verslag ontvang waarin die verdagte met die moord en verkragting verbind word. Die verdagte is sedertdien in die Blozo-nedersetting in Rocklands in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Gqeberha verskyn. Hy sal ook verskyn in verband met ’n ander verkragtingsaak wat in 2018 teen hom aanhangig gemaak is.

Hy was ten tyde van die moord op Chantelle uit op borgtog in dié saak. Hy het egter die afgelope paar jaar versuim om in die hof te verskyn vir dié saak en ’n lasbrief is uitgereik vir sy inhegtenisneming.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het intussen die verdagte se inhegtenisneming verwelkom.

“Die lewe en toekoms van hierdie kind [Chantelle] het op so ʼn wrede manier geëindig en ons sal baie nou saam met die Nasionale Vervolgingsgesag werk om te verseker dat hierdie verdagte nie weer op borgtog vrygelaat word totdat die twee sake afgehandel is nie,” het Ntshinga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Terwyl hy uit is op borg weens ‘n ander verkragting, laat die ma haar dogterjie in (ondermeer) sy sorg.
Toe sy haar dogtertjie nie vind, ‘neem sy aan sy is by die kind se pa en onderneem om haar die volgende dag daar te gaan soek.’
Arme mooie klein dogterjie. Sy was klaarblyklik nêrens tussen die grootmense wat na haar moes omsien, in omgee sorg.
Sy is wel nòu in die beste sorg ooit!!!

Porseleintjie ·

So moeg. Verby versadigingspunt vir die gemors in die land. Mag daar in SA n Godsvresende regering aan bewind kom.

Nico ·

Laat dit ‘n groot les wees om net borg te gee vir sulke oortredings.

Hennie J ·

Dit is so pateties dat die polisie se forensiese lab 2 jaar agter is met hulle werk. Mens wonder onwillekeurig hoeveel sake so tot niet gaan. n Deurwinterde regsgeleerde kan seker ook n ‘field day’ he as so n saak uiteindelik in n hof kom.

KhoiKhoi ·

Wat ‘n totale gemors!
Van alle kante!
Hoe kon die ma haar kind by mense laat waarvan een ‘n verdagte in ‘n verkragtingsaak is?
Dit om ‘n vriend te gaan kuier?
Waar was hulle toe sy terugkeer?
Hoe aanvaar sy dat die kind by haar pa was?
Die verdagte het alreeds sy borg verbeur op die ander saak en daar was ‘n lasbrief uitgereik EN hy was nog op vrye voete!
Soveel nalatigheid van alle kante.
In “normale” samelewing sou koppe waai.
Van die ma tot by die polisie

Magda ·

Hoe Los jy as Ma jou kind by iemand wat in die tronk was vir verkragting! Hoekom is hy uit die tronk! Verkragters moet lewenslank sit. Sorry Klein mensie Dat jy dit moes deur gaan.

Yvonne ·

2 jaar om die uitslae te kry…hoe pateties is alles nie in die land nie……arme arme dogtertjie…breek my hart

Anoniem ·

Wreed! Hoekom…………hoe op dees aarde kan jy jou kind in iemand se sorg laat wat reeds op klagtes van verkragting skuldig bevind was.

Winnie ·

Kla die ma ook aan. Ek sien in meeste gevalle waar kinders vermoor word was hulle in die sorg van hulle moordenaars gelos sodat die ma kan gaan kuier. So pateties hoekom nie die kind saamneem nie of is dit obskure kuiermense waar kinders nie hoort nie

Sarel ·

Feitlik 2jr nadat ‘n kind verkrag en vermoor is.
Wie gaan antwoord by Cele kry want Opposissie Partye
Is net so onbeholpe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.