Verdagte vas vir aanval op bende-eenheid

Polisielede ondersoek die toneel in Samora Machel in Kaapstad, waar ses van hulle kollegas in ‘n skietery gewond is. (Foto: Phandulwazi Jikelo/ANA)

ʼn 26-jarige man is Woensdagmiddag in die Paarl aangekeer in verband met die skietery in Samora Machel, ʼn buurt in Kaapstad, waartydens ses lede van die polisie se bende-eenheid ernstig gewond is.

Die polisielede is gewond terwyl hulle in die vroeë oggendure na verdagtes in dié buurt gesoek het. Hulle het pas een persoon in die Sweet Home Farm-informele nedersetting aangekeer, toe daar op hulle losgebrand is.

“Terwyl die lede gesoek het na nóg ʼn verdagte wat ook met ernstige misdaad in die gebied verbind word, het skote uit een van die hutte geklap,” het brig. Novela Potelwa gesê.

Twee van die polisielede is ernstig beseer en nog vier is in ʼn bestendige toestand.

Die Wes-Kaapse LUR vir veiligheid, Albert Fritz, het die aanval op ses lede van die polisie se bende-eenheid in Samora Machel in Kaapstad ten sterkste veroordeel.

“Dit is met groot kommer dat ek vanoggend verneem het dat ses lede van ons eenheid teen bendegeweld aangeval en beseer is. Ek is uiters dankbaar teenoor dié eenheid, alle ander polisie-eenhede, asook ons metropolisie wat met absolute toewyding en dapperheid onder moeilike omstandighede werk,” het Fritz gesê.

“Ek wil terselfdertyd op die sterkste moontlike manier dié aanvalle deur naamlose individue wat daarop uit is om toestande te skep waar hulle misdadigheid en moordbedrywighede algemeen is, veroordeel.”

Toegang tot die gebied is moeilik, die buurt is swak belig en hutte is digby mekaar. Dit maak die area ʼn gewilde wegkruipplek vir gevaarlike misdadigers en die omgewing het onlangs onder ʼn vlaag moorde deurgeloop.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die nasionale regering Dinsdag beskuldig dat hy die stygende moordsyfer in die provinsie ignoreer. Sy stelling is daarna gekritiseer deur Reneilwe Serero, woordvoerder van die minister van polisie, Bheki Cele, wat sê die Wes-Kaap het wat mannekrag betref die meeste hulpbronne.

Sy sê die minister fokus die afgelope ruk op die Wes-Kaap en is altyd betrokke by polisiëringskwessies in die provinsie. Sy het onder meer verwys na die bekendstelling van operasie Thunder in die provinsie, asook die stigting van die eenheid teen bendegeweld.

Die minister van polisie, Bheki Cele, (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Cele het vanoggend gesê hy gaan die beseerde polisielede in die hospitaal besoek.

“ʼn Aanval op lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ʼn aanval op die staat,” het Cele vanoggend gesê.

Hy het gesê die veiligheid van sy lede is een van die polisie se belangrikste prioriteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ria Maritz ·

Wat van elke aanval en moord op ons Plaasboere – wanneer word dit ernstig aangespreek en ten sterkste veroordeel ? Maak my gal braak.

piet piet ·

Seker weer die eerste beste bergie gearesteer om hulself beter te laat lyk en cowboy hoed moet nie eers praat van prioriteite nie.Sy mafia wanabee houding help ook nie sy saak nie.

PJC ·

Hierdie klomp het geen respek of vrees meer vir die polisie nie en aanvalle op die manne in uniform kom al hoe meer voor. Ongelukkig is die baie kaders en ander onbevoegdes en selfs ongeletterdes en selfs onopleibares die oorsaak hiervan. Ek dink dit moet bitter moeilik wees vir die goeie ouens in die diens om onder sulke omstandighede te werk.

Sarel ·

Ek verbaas jy vir sommige mense se ongevoelige kommentaar. Sou jy bereid wees om die werk te doen, el glo nie. Neem asb hierdie Poliesmanne/vroue se families in ag. Die mense werk onder uiters moeilik omstandighede. ” have a heart man”

piet piet ·

Sarel in die vorige bedeling was ek geforseer om diensplig te doen ek het eers Bethlehem toe gegaan en opgeiendig vir 2 jaar by die sap die disipline en opleiding was puik en ons het misdaad uitgesorteer die paar vrot appels het ons self uitgesorteer want ons was trots om n uniform te dra,vandag se lede is daar omrede dit hulle keuse is maar die trots en selfdissipline ontbreek en so ook die opleiding of dit nou die trp of sds,of wat hulle hulself noem,die onluste eenhede van 1986/90 sou 2 lede afgestaan het om hierdie krimineel te gaan arresteer en sou daar geweervuur wees sou hy tweede gekom het punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.