Verdagte vas vir busrooftog op studente

Argieffoto

Een van vyf verdagtes wat na bewering vandeesweek ’n bus met internasionale studente in Mamelodi in die ooste van Pretoria beroof het, is Donderdagaand in die stad in hegtenis geneem.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 30-jarige man is in die Pienaarspoort- informele nedersetting in Mamelodi in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Die man sal na verwagting Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, aanranding en roof.

Dít volg nadat vyf verdagtes Maandag ʼn bus met 18 internasionale studente en van hul professors in die Lusaka-uitbreiding beroof het.

Peters verduidelik dat die studente en hul professors van ʼn universiteit in die buiteland dié dag op ʼn uitreikprogram die Viva Foundation-skool in die ooste van Mamelodi wou besoek het. Die slagoffers is met hul aankoms by die skool deur die verdagtes oorval en beroof.

Maroela Media het vroeër berig een persoon is in die voorval geskiet en ʼn ander beseer. Die beseerdes is deur Peters geïdentifiseer as onderskeidelik ʼn lid van die publiek en ʼn personeellid van die skool. Die personeellid is deur die verdagtes aangerand voordat hulle in ʼn Toyota Quantum op die vlug geslaan het.

ʼn Voertuig wat aan die beskrywing van dié Toyota Quantum voldoen, is later by ʼn karwassery in Mamelodi gevind. Dié voertuig is ondersoek waartydens die polisie op bewyse afgekom het wat die taxi aan die voorval verbind. Dit het op sy beurt tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte gelei.

“Ons is kort op die hakke van die ander verdagtes en glo dat dit net ʼn kwessie van tyd is voordat die ander verdagtes opgespoor en in hegtenis geneem word,” het Peters gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alwyna ·

Ek is baie jammer oor die voorval en glo dit was uiters traumaties vir besoekers, maar ek is bly die wêreld kan nou eerstehand kennis opdoen van wat rerig in hierdie wettelose land aangaan
Seer sekerlik gaan dit rimpels maak…

Pieter du plessis ·

Dit was die tracker span wat hom opgespoor het die polisie kan nie eers n druiwekorrel op n wynplaas opspoor nie.

Bekommerd ·

Haha….hie lekker lag ek nou. Groot simpatie aan die families…..dis so tragies en onnodig. Hoelank nog voordat die wêreld kan sien wat hier aangaan…..maar ek is bevrees ons is op ons eie. Sasmstaan asb SA

Sarel ·

Krediet aan die SAP. Wat gaan die regstelsel nou met hom/hulle maak. Borgtog en jare se uitstel van die saak terwyl kriminele voortgaan met misdaad en nog Skoolbusse aangeval en beroof word want dit is sagte telkens. Politieke amptenare konsentreer nou op die groot Partytjie by Loftus en het vrede met misdaad.

Zumie ·

Afrika se spesialiteit..om hulleself in die voet te skiet…….
Beroof diegene wat jou mense wil help….
Tragies……

Netso ·

As ek tussen die lyne lees van die buitelandse studente glo ek nie van oorsee nie maar Afrika! Dit bly steeds tragies dat ñ kind geskiet was.

ne ·

Pragtige boodskap aan die buiteland! CR sal moet kyk na buitelanse besoekers en vir hulle wagte voorsien eerder as adjunk burgemeesters.

Adri ·

Dit is darem baie dwaas om ‘n voertuig met ‘n opsporingstelsel te gebruik en dink jy gaan wegkom!
Terloops: dit is Quantum en nie Quantam nie, tensy hulle van die bussie ‘n bakkie gemaak het! ;-)

Tania Heyns ·

Dagsê Adri

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

schaun ·

Ek lees baie van hierdie berigte en wonder het ons nog polisie nodig wat van goeie sekerheidsmaatskapye wat tot verantwoording geroep kan word as hulle nie hulle werk doen nie gekombineerd met opsporingseenheid soos tracker dink ek die gemeenskap dal beter af wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.