Verdagte vas vir Vrystaat-plaasmoord

handcuffs3-320x257Die Vrystaatse polisie het reeds een persoon in hegtenis geneem nadat Willie Janse van Rensburg (72) van Odendaalsrus op sy plaas Nuwejaarsbosch, doodgeskiet is en sy gesin aangerand is.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die 30-jarige verdagte is oor die naweek aangekeer. “Die man het Maandag in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn. Die saak is tot 10 November uitgestel vir verdere ondersoek,” het Thakeng gesê.

Thakeng wou nie verdere besonderhede oor die inhegtenisname bekendmaak nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer. Die polisie is op die spoor van nog verdagtes.

Maroela Media het Vrydag berig Janse van Rensburg, sy skoondogter, vyf kleinkinders, en ʼn werktuigkundige was op die plaas toe vyf gewapende mans hulle omstreeks 20:15 oorval het.

Janse van Rensburg was buite toe die mans hom oorval het. Hy was gewapen en sy aanvallers kon daarin slaag om sy vuurwapen by hom af te neem en hy is drie keer geskiet.

Die aanvallers het daarna die werktuigkundige, wat naby die plaashuis in ʼn karavaan bly, aangerand en ook Janse van Rensburg se skoondogter en een van die kleinkinders erg aangerand.

Hulle het ʼn aantal selfone, vuurwapens en ʼn onbekende hoeveelheid kontant gebuit en toe met Janse van Rensburg se bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate opgespoor.

Janse van Rensburg se skoondogter het ná die aanval met hom na ʼn hospitaal gehaas, maar hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.