Verdagte vas vir wynlandgoed-moord

Anthea du Preez. Foto: Verskaf

Anthea du Preez. Foto: Verskaf

ʼn 41-jarige man is Woensdagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op Anthea du Preez (64) van Rawsonville in die Wes-Kaap.

Anthea, die vrou van Hennie du Preez, eie­naar van die bekende Du Preez-wynlandgoed in Breedekloof, is Maandagoggend dood aangetref in haar huis op hul plaas, De Denne.

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die verdagte is by sy huis in Brackenfell aangekeer nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname bekom is.

Die verdagte gaan na verwagting Vrydag in die hof in Rawsonville verskyn.

Die polisie wou nie navrae beantwoord oor hoeveel verdagtes moontlik met haar moord verbind word nie. Hulle het ook nog nie meer inligting oor die omstandighede rondom haar moord of die motief daarvan bekend gemaak nie.

“Ons ondersoek in die saak duur voort,” het Traut gesê.

Peter Basson, Du Preez se skoonseun, het Donderdag aan Maroela Media gesê hulle is verheug oor die nuus. “Die ondersoekbeampte het ons vlugtig ingelig dat hulle gisteraand omstreeks 22:00 iemand in Kaapstad in hegtenis geneem het,” het Basson gesê. “Ons weet egter nog glad nie wie dit is nie – die man se identiteit is nog nie aan ons bekend gemaak nie.”

Hy het gesê hoewel hulle nie in dié stadium inligting oor die verdagte het nie, hoop hulle om binnekort meer te weet.

“Ons vertrou die polisie wat die saak hanteer, en wil nie te veel inmeng met hul ondersoek nie, so ons respekteer hul optrede. Ons laat die gereg sy gang gaan en hoop dat geregtigheid gaan geskied.”

Du Preez laat haar man, drie kinders Jean, Hennie jr., Janette, en nege kleinkinders agter.

Haar gedenkdiens vind Vrydag om 14:00 in die NG-kerk te Rawsonville plaas.

Lees Maroela Media se vorige berigte oor die voorval hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.