Verdagte voertuig lei polisie tot by moordtoneel

Die minibustaxi waarop daar beslag gelê is. (Foto: SAPD)

Parate polisiebeamptes wat Vrydag ʼn verdagte minibustaxi in Tsolo in die Oos-Kaap afgetrek het, se oplettendheid het daartoe gelei dat ʼn man se bebloede liggaam gevind en die vyf insittendes in die taxi van moord aangekla is.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, sê drie beamptes was Vrydag omstreeks 22:00 op die uitkyk vir ʼn gekaapte taxi nadat inligting oor dié voertuig deur die amptelike polisiekanale by hulle uitgekom het.

Naby die Gushingalo-wisselaar het hulle ʼn verdagte Quantum‑bussie gesien wat geen nommerplate voor of agter gehad het nie. Die beamptes het die bussie voorgekeer en die bestuurder opdrag gegee om af te trek. Volgens Tonjeni was daar vier mans en ʼn vrou in die voertuig en die beamptes het hulle ondervra.

“Die beamptes het egter onraad vermoed toe hulle bloed op die sweetpaktop van die bestuurder gesien het. Daar was ook bloedvlekke binne die voertuig en die insittendes kon nie ʼn rede vir die bloed verskaf nie,” sê Tonjeni.

“’n Selfoon is ook by een van die insittendes gekry wat die beamptes nog meer onraad laat vermoed het. Al vyf verdagtes, tussen 19 en 20 jaar oud, is in hegtenis geneem en die voertuig is gekonfiskeer.”

Tonjeni sê die bystandspeurder, plaaslike polisiebeamptes en die Vispol-bevelvoerder het hand bygesit om die saak verder te ondersoek. Die eienaar van die taxi is opgespoor en hy het aan die polisie gesê die taxibestuurder is Vrydag laas gesien toe hy vir diens aangemeld het.

By nadere ondersoek het dit Saterdag aan die lig gekom dat die taxibestuurder vermoor en sy liggaam op een van die plase naby Maclear gestort is. Die verdagtes het die liggaam en die moordtoneel aan polisiebeamptes uitgewys, sê Tonjeni.

Aanklagte van moord is daarna teen die verdagtes aanhangig gemaak.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die beamptes gelukgewens met ʼn deeglike ondersoek wat tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Heksie ·

Die polisie sal nie al die detail bekend maak van hoe hulle geweet het die selfoon in die verdagtes se besit, behoort nie aan een hulle nie.

Eugene ·

Indien jy nie bekend is met details soos foon se nommer, werking en naamlys nie as voorbeeld.

Cherokee ·

Onmiddellike vraag by my ook gewees. Soos ‘n verdagte motor. Niemand kon nog ooit verduidelik hoe lyk ‘n verdagte motor. Hierdie land raak rof! Nòu is dit verdag om ‘n mobile by jou te hê! Miskien gaan daar nog ‘n wed wees wat jou verplig om ‘n bestuurderslisensie te hê eer jy met jou mouter op die pad kan ry!

Wonder ·

Ai Cherokee, lees net asb voor jy comment. Dit maak n voertuig verdag indien 1. Hy aan die beskrywing voldoen en 2. Hy het GEEN NOMMERPLATE nie en 3. Die insittendes obviously verdag lyk. Die dinge wat jy borrel laat jou bv verdag klink.

Heksie ·

Noem dit instink, sesde sintuig, “gut feeling” maar hierdie voertuig het nie nommerplate gehad nie, en natuurlik is daar ‘n beskrywing van die voertuig gegee.

Stripes ·

Die voertuig het geen nommerplate opgehad nie. Al is dit ‘n nuwe voertuig moet die tydelike permit nogsteeds openlik vertoon word. Dit maak die voertuig verdag. As jy ‘n selfoon by jou het en jy kan dit nie aanskakel of “oopmaak” nie is die kanse dat dit nie joune is nie baie groot, dit maak jou verdag. Onthou dat as jy op ‘n plek is onder omstandighede wat nie normaal voorkom nie, is jy verdag. Net soos jou ouers, toe jy jonk was, geweet het wanneer jy aangejaag het, net so weet ‘n goeie poliesman wanneer dinge nie normaal is nie en dus dan verdag is. Wat die bestuurlisensie aanbetref is dit lankal wet dat jy dit op aanvraag moet kan toon en dit behoort jy sekerlik te weet as jy een het. As jy dit nie kan toon nie word daar ‘n waarskuwing skriftelik op jou bedien en as jy nie jou lisensie gaan toon binne die toegelate tydperk nie moet jy maar die gevolge vat.

KAKtus ·

Stripes, dit is goed dat jy stadig geskryf en verduidelik het, sommige lyk my kan nie vinnig lees nie. Ek kan Kaktus sap voorstel dit help vir baie kwale.?

Lola ·

Baie dankie Stripes dat jy dit vir die ander wat so beterweterig is uitskel ek dink hulle verstaan ook nou.

In diepte ·

Alewige beterweterige mense wie kommentaar lewer. Ten minste kan die polisie hulself vir ‘n slag klop op skouer te gee. Wees ten minste dankbaar as om als te kritiseer. Kritiseer polisie lede wie nie hul take na kom nie. Ek glo daar is nog baie toegewyde polisie beamptes daar buite. Wie hul sout werd is

Alida ·

Baie goeie werk deur die beamptes.

Ek vertrou al die bewysstukke word veilig gehou. Bebloede klere ens. nodig vir DNA toetse.
Wil regtig nie lees dat hulle op borg uit is nie. Bly in aanhouding tot hulle gevonnis is.
Die saak behoort gou afgehandel te word. Al die bewyse is daar en hulle het skuld erken.

Jan ·

Wie se hulle het skuld erken op watter aanklagte.het al vyf die man gelyk doodgemaak of het party toegekyk. Dink twee keer voor jy twak praat

Karolis ·

Al die betrokke beamptes, puik opvolgwerk.
Al die strepe, puik sinvolle antwoord.

willem Botha ·

Ek kan nie glo dat daar parate “polisie ” in sa is nie.

Piet parys ·

Goeie werk maar ons hoop nie die bewyse gaan voete kry nie . Niemand is nie meer seker van sy lewe nie . Ek stel voor die oorledene se familie moet die vonnis uitvoer . Oog vir n oog

GM ·

Partykeer kry ek nogal lag vir van die kommentators wat mekaar so aanval. As jul lank genoeg MM lees, dan sou jul sien dat party mense nie elke keer hul name verander nie. Mens leer dus hul tipe kommentare ken. Meeste van die kere wat diesulkes so aangeval/verskeur word, was hul kommentaar ‘tongue-in-the-cheek’ bedoel, en het die aanvallers in die slagyster getrap wat gestel is ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.