Franziska-saak: Selfoon-aanklag teruggetrek

Franziska Blöchliger

Franziska Blöchliger

ʼn Aanklag van die besit van gesteelde goedere, wat verband hou met ʼn Apple iPhone wat verlede jaar tydens die moord en roof van die Kaapstadse tiener Franziska Blöchliger gesteel is, is Vrydag voorlopig teen Jonathan Jonas teruggetrek.

Jonas, wat deur Laetitia September verteenwoordig is, het skuld op die aanklag teen hom ontken. Sy verhoor sou vandag voor landdros Wezile Rixana begin het.

Craig Esterhuyse, die staatsaanklaer, het egter nie gevra dat Jonas op die aanklag teen hom pleit nie, maar het eerder aan die hof gesê hy het opdrag van die Wes-Kaapse direkteur vir openbare vervolging (DOV) ontvang om die aanklag terug te trek. Die dossier is aan die DOV gestuur om te besluit of die staat met die aanklag moet voortgaan en of dit in die distrikshof of die streekshof aangehoor moet word.

Volgens Esterhuyse het die DOV se adv. Lehnro Badenhorst besluit daar is in dié stadium nie genoeg bewyse teen Jonas om ʼn skuldigbevinding te verseker nie en het daarom opdrag gegee dat die aanklag voorlopig teruggetrek word. Die aanklag kan in ʼn latere stadium weer aanhangig gemaak word indien die staat genoeg bewyse bekom om voort te gaan.

Die landdros het aan Jonas gesê hy is vry om te gaan, maar het hom gewaarsku hy kan in die toekoms weer terug in die beskuldigdebank wees op dieselfde aanklagte.

Jerome Moses (25) en Daniel Easter (33) is verlede maand tot ʼn boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis vir die besit van gesteelde goedere wat met Blöchliger se selfoon verband hou. Hulle het skuld op die aanklag erken.

Landdros Sylvia Mandla het saam met die verdediging se prokureurs gestem dat die saak nie tronkstraf regverdig nie.

ʼn Vierde verdagte, wie se naam nie genoem mag word voordat sy verhoor in die hooggeregshof begin nie, staan tereg op aanklagte van moord, verkragting en verswarende roof in verband met die tienermeisie se moord.

Franziska se liggaam is in Maart verlede jaar in die Tokai-woud in Kaapstad gevind nadat sy gaan draf en nie teruggekeer het nie. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon sy is verkrag. Sand is in haar keel gevind en daar was wurgmerke aan haar nek. Sy het glo versmoor toe haar gesig in die grond gedruk is.

Lees alle vorige berigte oor die Tokai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Regskundige ·

Maroela, die opskrif van die berig is totaal foutief. 1) ‘n Persoon is ‘n VERDAGTE voor sy hofverskyning. Daarna is hy ‘n BESKULDIGDE. 2) ‘n VERDAGTE kan nie VRYGESPREEK word nie, VRYSPRAAK beteken ONSKULDIG EN ONTSLAAN, NADAT die beskuldigde gepleit het – daarna mag die persoon nie weer van die betrokke misdryf aangekla kan word nie. 3) In hierdie geval het die BESKULDIGDE reeds voor die hof verskyn, maar die saak is teen hom teruggetrek, voordat hy gepleit het – daarom mag hy weer later aangekla word.
Die korrekte opskrif behoort dus te wees: “SAAK TEEN BESKULDIGDE IN FRANCISKA-SAAK, TERUGGETREK”. Regstelling word aanbeveel. Baie dankie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Regskundige

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die opskrif is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

ada ·

Gaan niemand gevonnis word vir hierdie verskriklike moord nie? Die polisie en ondersoekspan beteken niks nie! Hoe laakbaar!! Skandelik!! Daardie kind het n verskriklike dood gestetf. Julle is hopeloos onbevoeg of was julle deel daarvan dat moordenaars vry rondloop?

xxx ·

polisie is swak en uiters pateties my hell hulle kan ni eers n bende verkragters vang nie! Nee mense ons polisie gee nie oor ons om nie

manna ·

Hulle is almal skuldig! Hoe kan julle hulle loslaat. Ek hoop die gemeenskap kry hulle beet.

Celia ·

Dis hoekom mense reg in eie hande neem.
Hoe haar mense moet voel!

Yvette ·

Waar s die ANC Womans league nou!! Geweld teen vrouens en kinders!

Nita ·

Hoe eerder die deler saam met die steler gestraf word hoe gouer sal misdaadsyfers dalk afkom. Elkeen wat in besit is van n vermoorde se besittings, moet dieselfde straf kry asof hulle aandadig was aan die moord. Anders trek almal net hulle skouers op en LIEG en se: maar ons het niks gedoen nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.