Verdagtes dood ná skietgeveg met polisie

Die verdagtes het self ‘n Volkswagen gebruik om die kaping uit te voer. (Foto: Verskaf)

Drie vermeende kapers het Woensdag hul moses in ʼn koeëlreën teëgekom kort nadat hulle glo ʼn motor gekaap en die bestuurder aangehou het. Nog twee verdagtes is in die proses in hegtenis geneem.

Dié groep mans is glo deel van ʼn sindikaat wat Volkswagen Polo’s in Gauteng teiken. Hulle word reeds verbind met meer as 18 kapingsvoorvalle in die provinsie.

ʼn Geïntegreerde polisiespan onder leiding van die Valke het in Johannesburg op die verdagtes toegeslaan nadat hulle na bewering ʼn Polo gekaap het.

“Die verdagtes het op die polisie losgebrand wat daartoe gelei het dat drie van die verdagtes noodlottig gewond is,” het lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 30 jaar oud, is in hegtenis geneem. Polisiebeamptes het die eienaar van die gekaapte motor, wat tydens die voorval in sy motor aangehou en beseer is, bevry. Hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

“Die polisie het op drie vuurwapens, ammunisie, selfone en handskoene beslag gelê.”

Aanklagte van moord, poging tot moord, kaping, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie staar die verdagtes in die gesig.

Hulle sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Johannesburg verskyn.

Volgens die Valke het die sindikaat tydens dié kaping in ʼn Golf GTI gery, maar hulle het in vorige gevalle ʼn Toyota Corolla gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Dit gaan net erger raak met die aankomende feesgety aangesien Sapd mannekrag ver te min is.

David ·

Ten minste sal die drie, wat noodlottig gewond was, nooit weer ‘n motor kaap nie.

Ons sal maar sien wat gebeur met die twee wat in hegtenis geneem is.

Wel gedaan aan die Polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.