Verdagtes gesoek ná vlaag moorde by Witbank

misdaadtoneel

Argieffoto

Polisiebeamptes in Vosman, naby Witbank in Mpumalanga, is op soek na die moordenaars van drie mans wat op dieselfde dag dood in die omgewing aangetref is.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het bevestig drie mans is Maandag in verskillende voorvalle vermoor onderskeidelik in Vosman en Ackerville, sowat 20 km suid van Vosman.

“Omstreeks 17:20 het die polisie ʼn klagte ontvang oor ʼn beseerde man wat deur onbekende mans net so agtergelaat is by ʼn kliniek in Vosman. By polisiebeamptes se aankoms by die kliniek het ʼn verpleegster hulle vergesel na die man wat toe reeds dood was. Hy het steekwonde oor sy hele liggaam gehad,” het Bhembe gesê.

Omstreeks 18:00 is die polisie na nog ʼn misdaadtoneel in Vosman ontbied waar ʼn man in ʼn plas bloed voor iemand se huis gelê het. “Polisiebeamptes het hulle na die toneel gehaas waar hulle die man met steekwonde in sy liggaam aangetref het. Hy was reeds dood.”

Net ʼn paar uur later, omstreeks 23:00, is die polisie wéér na ʼn moordtoneel ontbied, dié keer buite woonkwartiere in Ackerville. Daar het hulle die slagoffer aangetref waar hy in ʼn plas bloed lê met verskeie skietwonde. Hy was ook reeds dood.

Volgens Bhembe is die motief agter die moorde nog onbekend. Niemand is nog in verband met dié gru-misdade aangekeer nie. “Enigiemand wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om konst. Ouma Nkambule by 083 519 8344 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel,” het hy gesê.

Die moorde is aangemeld op dieselfde dag dat ʼn buitelandse burger, wat ʼn dag vantevore as vermis aangemeld is, dood in ʼn puttoilet in Mkhulu aangetref is. Mkhulu is sowat 60 km noord van Vosman.

“Daar word vermoed die man is ontvoer voordat hy vermoor en in die puttoilet gegooi is. Twee verdagtes, Ellias Mphambo (32) en Happy Mnisi (40), is in hegtenis geneem en het gister in die Mkhulu-landdroshof op aanklagte van moord en ontvoering verskyn,” sê Bhembe.

Die twee beskuldigdes sal weer op 2 Julie in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae