Verdagtes gesoek oor ontvoering, seksuele aanranding

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Thabong in die Vrystaat stel ondersoek in ná ʼn paartjie, onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, ontvoer en die meisie seksueel aangerand is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die paartjie het Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 in hul motor gesit toe ʼn silwerkleurige Toyota Tazz, met ʼn onbekende nommerplaat, skielik agter hulle stilgehou het.

“Een van die verdagtes het uitgeklim en die 19-jarige man beveel om uit die motor te klim. Die verdagte het dadelik agter die stuur ingeklim, maar kon nie die enjin gedraai kry nie,”| het Makhele verduidelik. “Hy het toe die slagoffer gedwing om hom te wys hoe om die motor aan die gang te kry.”

Die tweede verdagte het intussen met ʼn vuurwapen nader gestaan en ook in die motor geklim. “Die verdagtes het daarna met albei slagoffers weggery en by Phumlani-begraafplaas stilgehou waar die meisie seksueel aangerand is.”

Die 19-jarige man kon in hierdie stadium weghardloop en het geskree en hulp geroep. “Toe hulle besef hulle kan aangekeer word, het die verdagtes met die slagoffer se motor, ʼn wit Toyota Corolla, nommerplaat HHJ282FS, weggery.”

Enigiemand met inligting word versoek om brig. Cynthia Molale te kontak by 082 372 0368 of 057 910 2397.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frederik C ·

Die verdagtes het dus die silwerkleurige Toyota Tazz net daar langs die pad gelos. Die polisie moet maar gaan vingerafdrukke neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.