Verdagtes gesoek vir dubbele moord, verskeie rooftogte

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Die polisie in Mangaung in die Vrystaat is op soek na vier verdagtes wat na bewering ʼn polisiebeampte “koelbloedig” vermoor het, ʼn tweede man doodgeskiet het en ʼn reeks rooftogte in die Kagisanong-omgewing uitgevoer het.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het sers. Motse Monyaki glo op 3 Februarie buite sy huis in Phahameng doodgeskiet. Die verdagtes het glo daarna in Monyaki se voertuig, ʼn blou Volkswagen Polo, gevlug met sy polisievuurwapen, ʼn televisiestel en drie selfone.

“Hulle het daarna na Mafora gery waar hulle ʼn taxi-bestuurder beroof het van ʼn onbekende bedrag geld, ʼn selfoon en sy voertuig se sleutels,” sê Mbambo.

“Die verdagtes het sowat ʼn uur en ʼn half later vier ander mans met pistole aangehou en hulle beveel om op die grond te gaan lê. Twee ander mans, familie van die vier wat op die grond gelê het, het daar verbygeloop en is ook deur die mans beveel om te gaan lê. Die mans het daarna glo skote in die rigting van die twee mans afgevuur voordat hulle op die grond gaan lê het waarna een van die mans in die bors geskiet is. Hy is op die toneel dood,” sê sy.

Volgens Mbambo het die verdagtes voortgegaan om die mans van selfone en kontant te beroof en het daarna weer op die vlug geslaan.

“Hulle het minder as ʼn driekwartier later nóg ʼn man van kontant en sy voertuigsleutels beroof. Die verdagtes het hom beskuldig van roekelose bestuur en hom toe met die vuis en ʼn vuurwapen aangerand.”

Genl.maj. Tollie Afonso, provinsiale polisiekommissaris, het Maandag gesê die polisie gaan “alles in sy vermoë doen om diegene wat skuldig is vir die wreedaardige en koelbloedige moord van die polisieman en die ander onskuldige man aan die pen te laat ry”.

Enigeen met meer inligting word versoek om lt.kol. Tankiso Sefuthi te bel by 071 411 7650.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Nouja toe, moor eie mense en kom weg daarmee, sekuriteite moet sigbaar wees en vinnig ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.