Verdagtes in Hillary Gardee-moordsaak voorlopig vry

Hillary Gardee. (Foto: Verskaf)

Die aanklagte teen die vier mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Hillary Gardee is voorlopig teruggetrek.

Die aanklagte teen Philemon Lukhele, Sipho Mkhatshwa, Mduduzi Gama en Rassie Nkuna is voorlopig teruggetrek nadat die staatsaanklaer aan die hof gesê het dat die staat se sleutelgetuies nie opgespoor kan word nie.

“Ek vind dit vreemd dat daar besluit is om met die verhoor voort te gaan en daar vier weke daarvoor opsygesit is en nou word daar skielik gesê dat die getuies nie gevind kan word nie,” het regter Takalani Ratshibvumo Woensdag in die hooggeregshof in Nelspruit, Mpumalanga, gesê.

Hillary is die dogter van Godrich Gardee, voormalige sekretaris-generaal van die EFF.

Die EFF het die regter se beslissing om die saak voorlopig terug te trek sterk veroordeel.

“Dit is net nog ʼn skokkende resultaat van die gebrek aan samehang en erns binne die regstelsel wanneer dit by geslagsgebaseerde geweld kom,” lui ʼn verklaring wat kort ná die hofbeslissing deur die EFF uitgereik is.

“Dit is nie net blote onbevoegdheid nie, maar ook ʼn demoraliserende weerspieëling van die onwilligheid van die staat om oortreders van geslagsgebaseerde geweld te vervolg.”

Volgens die EFF behoort die skielike verdwyning van die getuies ’n rede tot kommer te wees.

“Dit skep die vermoede dat hulle óf geïntimideer is óf op ʼn onwettige wyse stilgemaak is – iets wat gereeld met fluitjieblasers in Suid Afrika gebeur.

“Ten spyte hiervan is die terugtrek van die aanklagte teen die beskuldigdes op grond van die onverklaarbare verdwyning van getuies nie ’n bevestiging van onskuld nie,” sê die EFF.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal betrek word om die getuies in die saak op te spoor met die hoop om die aanklagte weer in te stel.

Die 28-jarige Hillary se liggaam is op 3 Mei verlede jaar buite Nelspruit aangetref. Sy is dae vantevore by die Spar-supermark op dié dorp gesien.

Hillary is in die agterkop geskiet en daar is R1 300 uit haar bankrekening onttrek in die ure nadat sy vermis geraak het. Sy het dieselfde klere as die dag van haar verdwyning aangehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Komende van die EFF.Die fluitjieblaser wat korrupsie openbaar gemaak het in die departement van gesondheid is ook vermoor,waar was die grootboek EFF toe.Nou skielik praat julle van onbevoegdheid.Dit is die eerste waar woorde wat uit julle monde kom sedert die ontstaan van die EFF.

Di ·

Daar is BAIE sulke gevalle in SA. Dis hoekom Afriforum en Solidariteit kronies die NVG moet aanspreek omdat sake net nooit vervolg word nie. SODRA hulle geraas begin maak, gebeur daar skielik iets om die saak weer te vervolg. NVG is ook kader aanstellings van die ANC so hulle beheer alles en almal in die land, selfs die howe

Sobymykoolkop ·

Sterk staan eff crybabies. Boere ELKE dag aan die onbeholpenheid van sapd uitgelewer, meesal loop die boere se moordenaars vir altyd vry tussen ons rond.

Anel ·

Ag, eff, nou weet julle hoe voel ons. En dit is julle maaksel ook.

Pierre ·

Laat my baie dink aan n boek wat afspeel op n plaas waar die karakters almal gelyk is aan mekaar maar party karakters is meer gelyk as ander en verdien net beter so ja die politiek kom al jare en sal vir jare so bly solank die burgers die politiek toelaat om so op te tree, geskiedenis herhaal hom maar net self.

Johanna ·

Shame DAT Groot praat leier van EFF nou ook sien DAT die hele regstelsel korrup is. Voel maar wat ons boere al lankal voel. Geen simpatie. Hou so vol

marius ·

Die regter het nie die saak teruggetrek nie. Dis die NVG . Gaan blaf teen die regte boom.

Danie ·

Dis maar net een voorbeeld van die betrokkenheid van die land se kaders en die pote se onvermoe om sake op te los.Die Npa is maar deel van die spul.

Andries ·

Ondersoek die staatsaanklaer. Ek ruik korrupsie en dat daar geld onderdeur gegee is sodat die getuienisse verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.