Verdagtes in hof oor goudkonsentraat

Foto ter illustrasie: Pixabay

Agt verdagtes het Maandag in die landdroshof op Stilfontein in Noordwes voorgekom in verband met die besit van goudkonsentraat.

Die mans, tussen 22 en 44 jaar oud, sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning oor presies ʼn maand, op 10 Januarie aanstaande jaar, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Die agt is in hegtenis geneem tydens stabiliseringsoptrede deur verskeie polisieafdelings die afgelope Donderdag in Khuma by Stilfontein. “Tydens hierdie operasie is beslag gelê op een ton ru-goud nadat dit in die verdagtes se besit gevind is,” sê Myburgh.

Die polisie het ook ʼn verlate transformator en ʼn Volkswagen Amarok gekonfiskeer, sê sy. Verdere ondersoek het aan die lig gebring die voertuig is in September vanjaar in Germiston aan Gauteng se Oos-Rand gesteel.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Noordwes-polisiekommissaris, het die span polisiebeamptes geloof vir hul harde werk. Sy sê multidissiplinêre optredes sal voortduur as deel van die polisie se veldtog om ʼn veiliger Kerstyd te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.