Verdagtes in Putfonteinweg-moordsake ‘kruip weg’

Johanco Fleischmann en Jess Kuhn. (Foto: Facebook)

Daar is steeds niemand in hegtenis geneem in verband met vanjaar se opspraakwekkende moord op die jong paartjie Johanco Fleischman en Jessica Kuhn nie. Enkele verdagtes is wel geïdentifiseer.

“Dit is dit in hierdie stadium egter nie moontlik om hulle in hegtenis te neem nie, aangesien hulle ondergronds wegkruip,” verduidelik die private speurder Mike Bolhuis Donderdag aan Maroela Media.

Drie lede van Bolhuis se speurderspan, Werner Koekemoer, Vince Harris en Tony Naidoo, ondersoek die moord op Fleischman en Kuhn. Die twee is in Mei vanjaar op Putfonteinweg in Benoni koelbloedig doodgeskiet nadat hulle sonder brandstof langs die pad gaan staan het.

Volgens Naidoo het die verdagtes in die saak steeds nie uit ’n myn waar hul tans wegkruip gekom nie, aangesien daar hoë polisieteenwoordigheid in die Springs-omgewing rondom dié myn is.

Intussen moet daar bloot geduldig gewag word.

“Ons is ’n spesialiseenheid in ernstige geweld. Mense kom juis na ons toe wanneer niemand anders hulle kan help nie. Nou kan óns ook nie vir hulle antwoorde gee nie. Ons voel ons laat die klaers [in dié saak] met leë hande en nog groter frustrasie.”

’n Voorlopige ondersoek het kort ná die moorde daarop gedui dat Zama Zama’s (onwettige mynwerkers) moontlik verantwoordelik is.

“Ons het verdagtes nodig wat ons aan die bietjie inligting wat ons het kan verbind, maar hierdie ouens is te groot en te lank in die game. Die vuur is te groot om te blus.”

Vir Johanna Kuhn, Jessica se ma, lyk dit asof niemand binnekort vir haar kind se moord verantwoording gaan doen nie.

“Ons monitor en hou die saak warm maar die polisie het gedoen wat hulle kon en ons het gedoen wat ons kan doen,” verduidelik Bolhuis.

“In hierdie land is daar die moontlikheid om misdade te pleeg en daarmee weg te kom. Ons is aan ons eie lot oorgelaat. Die regering moet misdaad ernstig opneem,” sê Bolhuis.

Die Kuhn- en Fleischmann-gesin is steeds in kontak met mekaar ná daardie dag sowat vyf maande gelede en deel in mekaar se frustrasie.

“[Jessica] was ’n baie vriendelike mens. Altyd spontaan. Haar passie was kinders. Sy het net nooit die geleentheid gehad om haar eie te hê nie,” sê Johanna oor haar dogter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

of ·

Maak die gat toe en begrawe hulle mos moordenaars ewig in die hel

Sobymykoolkop ·

Bolhuis se blaf meer as sy byt, raas baie, doen weinig

Abe ·

Sobymykoolkop,
Hoekom gaan vang jy nie die verdagtes in die myn as jy so baie doen nie. Wys ons hoe!

Hennie ·

Mike Mike Mike. Jy mors ons tyd. Wonder wat het nou van al jou kamtige informante geword.

SNEL ·

Ja-nee, as een eers kom met ondergronds, dan kan mens weet hy gryp na grashalms. Maklikste manier om dit te laat klink na n moeilike of heel onmoontlike taak as om te sê; ek is onbevoeg om my werk te doen. Keelvol vir die swak hantering van misdade en korupte regstelsel. Lewenslank vir verkragting en 15 vir moord, beide hoort lewenslank en sal nooit verander nie. Uiters swak pogings om krimenele te kry en dan as hulle die dag tog gekry word, die regte straf te gee, patties verby.

ryan ·

In hierdie land moet mens maar self die leiding neem en die ouens gaan haal en na die sapatete bring. Hoe belaglik man!

Manna ·

Die wiel van geregtigheid draai stadig maar seker. Ons hart gaan uit na familie

Michelle ·

Kan dit waar wees ?
Kruip hul regtig weg vanaf Mei 2019 ?
Of is hierdie net ‘n losse “antwoord” op talle vrae.
Weet nie wat om te dink van hierdie storie nie.

HESTER ·

Van hierdie mense bly tot 9 maande ondergrond. My broerskind doen nou sy training vir ingenieurwese by n myn in Welkom en ja hulle sien hulle maar gaan nie naby hulle nie.
Ek wens Mike Bolhuis stuur iemand in om die rubbish te gaan soek ondergrond

Wielspore ·

Zama zamas kan tot maande ondergronds bly, daar is runners wat benodighede aandra. Geregtigheid gaan geskied, watch this space.

Hvr ·

Abe word wakker. Dis Bolhuisie se werk nie sobymykoolkop se werk… stem Bolhuis is net blaf

LHS ·

EK DINK DIE MAN EN SY SPAN HET GENOEG BEWYSE VAN POSITIEF AFGEHANDELDE SAKE. HY HOEF HOM NIE EERS TE VERWERDIG OM HOM AAN DIE SPUL WAT HOM SO KRITISEER TE STEUR NIE. TEN MINSTE PROBEER HULLE NOG WANNEER ANDER REEDS TOU OPGEGOOI HET, HULLE PROBEER TEN MINSTE IETS DOEN , WAT DOEN JULLE BEHALWE ANDER MENSE BELEDIG, GAAN DOEN DAARDIE TIPE WERK DAN KOM KERM JY WEER.

Mb ·

Die geweld in hierdie land is “werkskepping”. Daar sal niks aan gedoen word nie.

Jj ·

Abe
As jy dink dit is so maklik om hulle te vang, dink weer mooi, van my mede werkers is deur zama’s zama’s dood geskiet. Ek praat uit onder vinding

Db ·

Genugtig maar hier word darem geniepsige kommentaar gelewer. Al julle tawwe tienies hoekom gaan julle nie in die myn in en gaan haal die moordenaars nie. Maklik om op die kantlyn te staan en die wedstryd te speel maar as die bal kom is julle die eerstes om weg te duik. Los vir Bolhuis uit en tant Jacoba dit is sy keuse om sy hare so te dra. Jy dra seker ‘n bolla

Neville ·

NEE WAT JONG EK DINK JUL OP DWAALSPOOR – VAN DIE SAAK GAAN DAAR NIKS KOM NIE

JG ·

Ek verstaan nie…hoe moeilik kan dit wees ?? As hulle weet waar die spul wegkruip, hoekom “flush” die SAPS hulle nie uit nie ?? Water is dalk nie n opsie nie – wanwee logiese redes, maar traangas sal hulle verseker daar uit kry. O, ek het vergeet, die moordenaars het “mense-regte” hulle is “un-touchable”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.