Verdagtes in sakevrou se moord eersdaags verhoor

Judith Redelinghuys (Foto: Facebook)

Die verhoor van drie verdagtes wat teregstaan op die moord van Judith Redelinghuys (71), ’n sakevrou van Upington in die Noord-Kaap, sal voorlopig volgende Maandag in die hooggeregshof op dié dorp plaasvind.

Redelinghuys se dogter het op 30 Junie 2020 op haar liggaam in die swembad by haar huis in Upington afgekom. Haar hande was agter haar rug vasgemaak.

Tumelo Mavlenter Sotho, Martatjie Engelbrecht en Nkosinathi Ntombela se verhoor sou Woensdag afgeskop het, maar is voorlopig tot 15 November uitgestel. Die drie beskuldigdes het vroeër om borgtog aansoek gedoen, maar dit is van die hand gewys.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, is die verhoor uitgestel nadat Ntombela aangedui het dat hy ’n nuwe regsverteenwoordiger wil aanstel.

“Die verhoor is vir eers uitgestel om die beskuldigde kans te gee om ’n nuwe regsverteenwoordiger te kry,” bevestig Senokoatsane.

Senokoatsane kon nie uitbrei waarom Ntombela se huidige regsverteenwoordiger hom nie meer gaan verdedig nie.

Maroela Media het vroeër berig Redelinghuys se dogter kon haar nie in die hande kry nie en is dus na haar ma se huis om ondersoek in te stel. Sy het Redelinghuys toe in die swembad sien dryf.

Volgens die polisie was daar geen teken van gedwonge toegang tot die huis nie. Slegs Redelinghuys se selfoon en handsak was vermis.

Redelinghuys was ’n bekende sakevrou op die dorp. Sy was van 1993 tot 2012 eienaar van die Woolworths-franchise en van 1972 tot 1989 mede-eienaar van die Coca-Cola-botteleringsaanleg op die dorp.

Sy was ook betrokke by die ontwikkeling van die woonkompleks langs die rivier op die dorp waar sy tot haar dood gewoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Weereens die hand wat hul gevoed het, word vermoor. Dit is absoluut afskuwelik, eintlik is daar nie genoeg woorde vir hierdie onsinnige /onmenslike moorde wat gepleeg word te beskryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.