Verdagtes kort ná plaasaanval vasgetrek

Die verdagtes is langs die N12 vasgetrek (Foto: Verskaf)

ʼn Groep van vyf aanvallers wat Donderdagmiddag op ʼn man (78) en sy dogter se plaas digby Leeudoringstad in die Noordwes toegeslaan het, is ʼn halfuur later op die N12-snelweg by Klerksdorp vasgetrek.

Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, sê drie van die verdagtes is reeds vasgetrek terwyl hulle steeds op die spoor van hul twee trawante is.

Hy sê ʼn saak van huisroof word ondersoek.

Oskin Chatwind, ʼn woordvoerder van CSS Security, sê die aanvallers het die middag tussen 13:15 en 13:30 die plaas betree en die pa en dogter oorrompel.

“Hulle het die pa en dogter aangerand, maar genadiglik is hulle nie kritiek beseer nie,” vertel Chatwind. Hy sê hulle is intussen hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling.

Chatwind vertel die aanvallers het twee vuurwapens en sowat R6 000 kontant gesteel. Tselanyane sê selfone is ook gebuit. Hulle is in die slagoffers se blou Toyota Yaris vort.

Lede van ʼn sekerheidsmaatskappy in Klerksdorp, CSS Security, het saam met die polisie, gemeenskapslede, buurt- en plaaswagte kragte gesnoer om seker te maak die verdagtes word vasgetrek.

“Die polisie is van die voorval verwittig en het toe dadelik plaaslike sekerheidsmaatskappye, buurt- en plaaswagte in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir die voertuig,” vertel Chatwind. Die polisie het die dorp en omliggende paaie laat versper.

Volgens Chatwind het ʼn lid van hul sekerheidsmaatskappy die voertuig omstreeks 14:00 op die N12 tussen Klerksdorp en Wolmaransstad gewaar. “Ons het saam met die polisie se blitspatrollie die voertuig agternagesit. Ons kan bevestig skote is tussen die verdagtes en die blitspatrollie afgevuur.”

Hy sê die voertuig het van die N12 na Meiringspark in Klerksdorp afgedraai en is in dié woonbuurt onderskep. Een verdagte is in hegtenis geneem. Die oorblywende verdagtes het uit die voertuig gespring en die bosse ingehardloop. Nog twee van die verdagtes is later dieselfde dag vasgetrek. Drie vuurwapens is teruggevind.

Chatwind sê daar was in ʼn stadium omtrent 40 voertuie op die toneel om die verdagtes te help opspoor. Hy het veral die polisie geloof vir hul goeie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Duidelik is die oorlog nou hier. Kan nie help om te wonder wie is volgende nie.

Werner

Wel as ons regstelsel konsekwent was sou dit goeie nuus wees. Hulle sal wel borg kry en weer aanvalle loods

Faraway

Dankbaar vir elke persoon wat hierby betrokke was om hulle te vang!
Dankbaar aan God dat die slagoffers weggekom het met hul lewens!
Dankbaar vir n positiewe nuusberig op hierdie somber Vrydag!

JohanR

Dit lyk my meer en meer word plaasaanvallers se rieme styf getrek, soos die gemeentes en sekuriteit saam werk. Lekker man! Maar waaneer gaan ‘n saak van huisroof, aangemeld word as ‘n saak van terrorisme?

Sobymykoolkop

ń huisroof neem ek aan sal meesal in ń dorp gebeur, hierdie is niks anders as ń plaasaanval nie, laat die liberale reënboog aanbidders my anders bewys.