Verdagtes met dubbele moord, plaasaanval verbind

Die landdroshof in Piet Retief, Mpumalanga. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die polisie in Mpumalanga het Sondag drie verdagtes in hegtenis geneem vir die moord op twee mense sowel as ʼn plaasaanval. Die voorvalle het op twee verskillende plekke rondom Piet Retief in Desember plaasgevind.

Dit is nie duidelik presies waar of wanneer die moorde gepleeg is nie, hoewel verneem word dat dit nié op ʼn plaas gebeur het nie. Luidens inligting wat deur brig. Selvy Mohlala aan Maroela Media verskaf is, is die vermoorde paar onderskeidelik 63 en 66 jaar oud.

Hoewel hy gesê het dat die twee doodgeskiet is, het hy geen verdere besondere oor die voorval verskaf nie.

Volgens Mohlala word die verdagtes, onderskeidelik 24, 35 en 45 jaar oud, ook met ʼn plaasaanval op 16 Desember verbind.

Die polisie sê items ter waarde van R55 200 is tydens dié aanval gebuit.

“Die drie verdagtes het reeds in die hof op Piet Retief verskyn en die saak is tot 17 Januarie uitgestel,” sê Mohlala.

Luidens ʼn berig op South Africa Today het die plaasaanval in die Wittenberg-omgewing plaasgevind.

Drie aanvallers het volgens dié berig glo ʼn jong vrou oorrompel en ook ʼn vuurwapen uit die huis gesteel. Hierdie inligting is egter nie deur die polisie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier johannes

Bring die dood straf terug en dit sal beter gaan in die land

casper

En more is hulle uit op parool !!

Lubbe

Hierdie was nie ‘n plaas aanval nie. Dit was ‘n egpaar wat in die dorp in hul huis dood geskiet is.

Harley Davidson

Ek wonder partykeer of die motiewe regtig misdaad gedrewe is.

Pieter

Die landros gaan hulle vyf honderd borg gee dan kan hulle maar gaan en weer moor. Die land se regstelsel is n grap man en die regters en landroste nog n groter grap.