Verdagtes met ses gesteelde jaggewere betrap

Die jaggewere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Die jaggewere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Die Limpopo-polisie het op drie verdagtes toegeslaan en beslag gelê op ses hoë kaliber jaggewere wat onlangs op ʼn plaas naby Modimolle (Nylstroom) gesteel is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die sukses volg ná ʼn gesamentlike intelligensie-gedrewe optrede deur lede van die taktiese reaksie-eenheid en speurders van die Modimolle-polisie. Die verdagtes is Maandagaand by hul onderskeie blyplekke in die Modimolle-omgewing in hegtenis geneem.

“Die eienaar van die jaggewere is ʼn toegewyde jagter en al die wapens is gelisensieer. Die gewere en ammunisie is sowat tien dae gelede tydens ʼn huisbraak op ʼn plaas gesteel. Die eienaar van die plaas was nie tydens die voorval tuis nie,” het Otto gesê.

Die verdagtes het toegang tot die eienaar se kluis gekry deur dit met ʼn hoekslyper oop te sny. Altesaam sewe vuurwapens en 121 verskillende soorte patrone is gesteel.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn voertuig wat die verdagtes tydens die huisbraak gebruik het.

Meer inhegtenisnemings word verwag. Die soektog na die sewende vuurwapen duur voort.

“Die moontlikheid word ondersoek of die verdagtes verbind kan word met verskeie ander misdade in die omgewing en in die provinsie. Ballistiese toeste word ook gedoen om te bepaal of die vuurwapens miskien gebruik kon word in ander misdrywe sedert dit gesteel is,” het Otto bygevoeg.

Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Genl.maj. Nonhlanhla Zulu, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul goeie werk, geduld en toewyding wat tot die inhegtenisnemings gelei het.

“Die gesteelde vuurwapens kon ʼn groot bedreiging vir die veiligheid van die gemeenskap ingehou het as die verdagtes nie aangekeer is nie. Dit kon selfs vir die stropery van renosters of olifante gebruik geword het,” het Zulu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JoeV ·

“121 rondtes ammunisie van verskillende kaliber is gesteel”

Tiger ·

Wat my en my man baie bekommer is die gemak waarmee wapen kluise oopgesny word met hoekslypers.Ons betaal ten duurste vir ‘n wapen kluis en dan is hy net ‘n metaal kas.Baie beslis nie ‘n kluis nie!!Die SABS behoord hier betrek te word sodat wapen kluise WARE kluise word wat nie so maklik oopgebreek kan word nie.Ons begin sterk dink daaraan om al ons wapens elders buite die wapenkluis te versteek juis om ons wapens teen diefstal uit die wapen kluis te beskerm.

Kobus ·

Tiger, hierdie gewere is uit my vriend se geweerkluis gesteel! Ek dink nie eens die polisie het so ‘n kluis nie en die spul wat die wapens gesteel het, het geweet wat hulle doen.
Hulle het ook ‘n ” cutting torch” gebruik.

Tiger ·

Dankie vir die antwoord Kobus.So ek lei af die kluis was ‘n WARE kluis gewees as vlam sny toerusting gebruik is.Ons geweer kluis kan mens amper met ‘n blik sker oopsny en hy was vrek duur.My man het al gedink om hom in te bou in ‘n muur dat net sy deur sigbaar is.Dis egter baie duidelik die diewe het in jou vriend se geval “binne inligting” gehad om sulke toerusting saam te bring vir die kluis se oop breek.

Tiger ·

Kobus dankie vir die terug voer.So iemand het inligting ivm jou vriend se kluis gelek aan die rowers sodat hulle geweet het wat se swaar toerusting hulle moes saambring.Goed om te weet hy het ‘n ware geweer KLUIS gehad.Ons geweer kluis kan amper met ‘n bliksker oopgesny word!EN hy het ‘n arm en ‘n been gekos .Die dat ons dink daaraan om ons wapens elders te berg waar hulle REGTIG veilig teen diewe sal wees of ons moet ook ‘n ordentlike geweer kluis gaan soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.