Verdagtes slaan ure ná aanval op bejaarde weer toe

Argieffoto: Lorraine Claasen

Drie vermeende huisrowers wat verbind word met twee huisrowe in die Oos-Kaap wat onder meer ʼn aanval insluit waartydens ʼn bejaarde vrou op ʼn plaas oorval en vasgebind is, is Saterdagaand in hegtenis geneem.

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, het dié nuus bevestig. Volgens hom het die polisie van Port Elizabeth, Alexandria, Paterson en Kinkelbos en ook die polisie se honde-eenheid, boere van die omgewing, hul plaaswerkers en plaaslike buurtwagte saamgewerk om te verseker dat die mans in hegtenis geneem word.

Die mans, onderskeidelik 48, 34 en 24 jaar oud, word verbind met ʼn aanval op ʼn 76-jarige vrou waartydens haar rooi Nissan 1400-bakkie, ʼn televisiestel en ʼn stofsuier gesteel is. Die verdagtes het haar op ʼn plaas buite Bathurst, naby Port Alfred, oorval.

Maroela Media het vroeër berig die bejaarde vrou was besig om haar inkopies uit haar voertuig te laai, toe sy deur die verdagtes oorrompel is. Een van die mans het haar met ʼn mes gedreig en aangedring op R500 kontant. Die vrou het toe aan hulle die geld gegee waarna hulle haar met skoenveters vasgebind het. Sy het ʼn dag lank om hulp gewag en is deur ʼn familielid aangetref.

Beetge sê dieselfde verdagtes het etlike ure ná die aanval ook ʼn bejaarde man op ʼn ander plaas, bekend as Perdevlei, in die omgewing aangeval. Volgens Beetge het die verdagtes die aanval met die 76-jarige vrou se gesteelde bakkie uitgevoer. Die verdagtes het die man ook oorrompel, met ʼn mes gesteek en ʼn televisiestel gesteel.

Volgens hom het die polisie later dieselfde rooi bakkie op die R72 opgemerk, waarna ʼn jaagtog tussen die polisie en die verdagtes ontstaan het. Die verdagtes het langs die pad stilgehou en te voet gevlug.

Die soektog is ná middernag op 6 April afgelas, en weer op 7 April (Saterdag) die oggend begin. Beetge sê dit is te danke aan spanwerk dat die drie verdagtes Saterdagoggend in ruie bosse op die Stoney Croft-plaas in hegtenis geneem is.

Aanklagte van huisroof, aanranding met die doel om ernstig te beseer en motordiefstal staar die mans in die gesig. Die verdagtes sal Maandag in die hof verskyn.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegroepering, het ondersoekspanne en vrywilligers bedank vir hul bystand wat gelei het daartoe dat die verdagtes vasgetrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Tokkie ·

Wanneer gaan die moord en doodslag op ons boerevolk stopgesit word ?

HPV ·

Wanneer ons stop om sagte teikens te wees en terugveg. Daardie dag sal dit stop! Selfverdediging!

Grassie ·

HPV – Jy is heeltemaal reg, maar hoe stop ‘n bejaarde om ‘n sagte teiken te wees? Ek weet daar word gesê bejaardes moet nie alleen woon nie, maar waar gaan hul heen? Almal het nie kinders om by te gaan intrek nie en ‘n pensioen wat twintig jaar gelede voldoende was kan vandag nie eers naastenby by ‘n ouetehuis se fooie bykom nie. Baie is dankbaar om bloot ‘n dak oor hul kop te hê al is dit nie veilig nie.
Ons woon nie meer in die ou Suid-Afrika waar oumense en kinders versorg was nie.

S. du Toit ·

Hoe gaan hulle straf vergelyk met die sogenaamde haatsprekers? Twee jaar tronkstraf of môre weer op straat.?

Loutie ·

Blykbaar is dit poging tot moord as jy baklei by n kfc, maar huisroof as jy iemand steek met n mes, dis huisroof om n vrou met n baksteen oor en oor te slaan, maar poging tot moord om te baklei in n bar. Daar is een verskil tussen die gevalle.

Nettie ·

@Loutie – jy slaan die spyker vierkantig op die kop. As dit ‘n blanke persoon/persone is wat met ‘n swart/gekleurde persoon/persone by ‘n KFC baklei, is dit POGING TOT MOORD. As dit ‘n swart/gekleurde persoon/persone is wat ‘n blanke persoon/persone met ‘n mes steek tydens ‘n huisinbraak/roof of ‘n blanke persoon/persone herhaaldelik met ‘n baksteen oor die kop slaan, is dit slegs aanranding – die verskil: DIE VELKLEUR VAN DIE SLAGOFFER EN DIE OORTREDER.

Christa J ·

Goeie werk! Wys asb die SAPD in Gauteng hoe dit gedoen moet word.

Wonder ·

Grassie, dit is soos jy sê, ons het voorsiening gemaak, maar die lewe is te duur. En in elk geval, outehuise word ook deesdae aangeval. ‘n Kleuterskool is nie eers meer veilig nie.

VanAfrika ·

Vir wat moet mense van hulle plase af padgee waarvoor hulle so hard gewerk het. Kriminele het geen reg om iemand se grond te betree vir geen rede nie. Ons is geregtig op privaat en veiligheid!!!!!!!

Theresa ·

Vinnige werk – mooi so! Mense moet die skuldiges ook sommer privaat aankla vir die trauma. Daar hoort nou so opgetree te word. Breek in en traumatiseer iemand, dan sal jy jou straf uitdien EN betaal vir daardie trauma en onnodige lyding.

Magda ·

Dankbaar hulle is vasgetrek en dat die ou mensies nog lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.