Verdagtes soek ná moord op beampte

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die polisie in Mpumalanga is op die spoor van verdagtes nadat ’n wetstoepassingsbeampte Saterdag buite Emalahleni (Witbank) doodgeskiet is. Nog ’n beampte is gedurende die voorval gewond.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê ses verdagtes het in die vroeë oggendure op ’n vulstasie buite die dorp toegeslaan om werknemers van hul persoonlike besittings te beroof.

Volgens Hlathi het die verdagtes na bewering plofstof op die toonbank van die vulstasie se winkel geplaas en gedreig om dit te laat ontplof, sou die werknemers die polisie ontbied.

Die verdagtes se plan het egter skeefgeloop toe twee wetstoepassingsbeamptes wat in die omgewing gepatrolleer het, onbewus van die rooftog by die vulstasie stilgehou het.

Luidens die verklaring het ’n skietery tussen die verdagtes en wetstoepassingsbeamptes uitgebreek en AO Samuel Nkosi is in die proses doodgeskiet. Nkosi se kollega is ook in die voorval gewond.

“Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied waar Nkosi dood verklaar is. Die oorlewende beampte is hospitaal toe geneem.”

Die polisie doen nou ’n beroep op mense om enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes by kol. One Thobejane by 082 372 2195 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blomme ·

Wat is besig om in ons pragtige land te gebeur? Geen respek vir lewe meer.. En waar kry ieder en elk nou toegang tot pistole? Wat beteken wetgewing dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.