Verdagtes vas, een dood oomblikke ná rooftog

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Twee verdagtes is Saterdag vasgetrek en een doodgeskiet toe die blitspatrollie in Port Elizabeth blitsig op ʼn ontsnapping gereageer het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê volgens inligting het drie verdagtes omstreeks 10:20 ʼn winkel in Khayamnandi in Despatch binnegegaan. “Een verdagte was gewapen en hulle het kruideniersware, vleis en ʼn bietjie kontant gesteel. Een skoot is afgevuur, maar niemand is beseer nie,” het Naidu gesê.

Die verdagtes het in ʼn groen Mazda van die toneel gevlug en die voertuig se registrasienommer is onmiddellik versprei.

Lede van die blitspatrollie het hulle onmiddellik gehaas na die hoek van Nooitgedacht- en Uitenhageweg.

“Die voertuig is gewaar en beamptes het dit agternagesit. Die verdagtes het losgebrand en die polisie het teruggeskiet.”

Die altesaam vier verdagtes in die voertuig het uitgespring en drie het begin weghardloop. Die motor het teen ʼn stilstaande Corsa gebots.

Twee verdagtes, albei gewond, is vasgetrek en die derde verdagte het ontsnap.

“Die vierde verdagte het uit die motor geklim en ʼn paar meter weg inmekaargesak en gesterf aan ʼn skietwond aan sy kop.”

Die polisie het beslag gelê op ʼn “gasvuurwapen” by die oorledene en ʼn ander vuurwapen binne-in die motor.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en roekelose/nalatige bestuur.

“ʼn Saak van moord en poging tot moord is ook aanhangig gemaak in verband met die oorledene en beseerde verdagtes,” het Naidu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.