Verdagtes vas etlike ure ná skoolskietery

Die verdagtes is etlike ure ná die rooftog vasgetrek (Foto: Marshall Security)

Drie verdagtes wat Vrydag by die Sea Cow Lake-skool in Durban toegeslaan het, is etlike ure later in hegtenis geneem.

Die verdagtes het na bewering ʼn onderwyser in die gesig geskiet en leerders van hul besittings beroof.

Volgens Tyron Powell van Marshall Security is reaksiebeamptes omstreeks 14:35 na die skool ontbied nadat hulle in kennis gestel is van ʼn skietvoorval.

“Met beamptes se aankoms op die toneel het hulle vasgestel dat drie gewapende verdagtes die skoolterrein betree het terwyl ʼn vierde in die wegkommotor gewag het,” sê Powell.

“Die verdagtes het die adjunkhoof van die skool in sy kantoor aangehou en verskeie items, waaronder ʼn handsak, gesteel.”

Die gesteelde goedere waarop beslag gelê is (Foto: Marshall Security)

Volgens Powell het die verdagtes toe na ʼn klaskamer gegaan waar hulle skoolkinders, wat ekstra klasse bygewoon het om hul punte te verbeter, van hul besittings beroof het.

“ʼn Onderwyser het die rooftog aanskou en ingegryp. ʼn Stoeiery het ontstaan waartydens die verdagtes een skoot op die onderwyser se gesig afgevuur het. Die verdagtes het toe in die wegkomvoertuig gespring en laat spaander.”

Die beseerde onderwyser is na ʼn hospitaal gehaas, waar bevestig is dat hy tans in ʼn stabiele toestand is.

Powell sê beamptes het na die beeldmateriaal van die skool se kringtelevisie gekyk en daar is vasgestel dat die verdagtes ʼn silwer Datsun Go Plus met GP-nommerplate gebruik het om die rooftog uit te voer.

“ʼn Beskrywing in fyn besonderhede van die gesoekte voertuig is aan al ons gewapende reaksiebeamptes en spesiale taakspanne gestuur om daarvoor op die uitkyk te wees.”

ʼn Voertuig wat ooreenstem met die beskrywing van die motor wat op die beeldmateriaal geïdentifiseer is, is omstreeks 20:55 in Whetstone-rylaan in die Phoenix-omgewing opgemerk.

“Lede van ons spesiale taakspan is dadelik ontbied en het met die hulp van die Phoenix Trio-misdaadeenheid die verdagtes voorgekeer.”

Daar was drie insittendes in die voertuig en die beamptes het hulle ondervra. Die motor is ook deursoek.

“Beamptes het die nommerplate wat in die rooftog gebruik is, saam met ander bewyse, waaronder die adjunkhoof se handsak, in die voertuig gevind. Al drie verdagtes is summier in hegtenis geneem en na die Phoenix-polisiestasie vervoer vir verdere ondersoek en misdaadverwerking.”

Die verdagtes het tydens ʼn ondervraging by die polisiestasie erken dat hulle by die rooftog betrokke was.

Die polisie is nog op die spoor van die vierde verdagte.

Die verdagtes sal teregstaan op aanklag van poging tot moord en sakeroof.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

En more uit op borgtog en dan 10 jaar later vrygespreek

Mariana

Die vuilgoed kies maklike teikens. Lafhartige gemors.