Verdagtes vas meer as twee jaar ná Samwu-moorde

hof-hamer

(Argieffoto)

Twee verdagtes sal Dinsdag in die landdroshof in Thohoyandou in Limpopo verskyn in verband met die moord op lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu).

Hulle word terselfdertyd verbind met velerlei misdrywe wat hulle glo vanaf 2018 tot nou in die omgewing gepleeg het.

Die Samwu-lede is in Januarie 2019 doodgeskiet.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, is een van dié lede, Tshimagadzo Timson Musetsho (50), op 24 Januarie 2019 omstreeks 20:30 geskiet terwyl hy sy motor in sy motorhuis in die Makwarela-nedersetting geparkeer het. Hy het later in ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.

Nóg ʼn Samwu-lid, Ronald Mani (50), is ses dae later by die Singo-drankwinkel in die nabygeleë nedersetting Itsani doodgeskiet. Mani is omstreeks 19:40 vermoor.

“Ná afloop van die moorde het lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, ʼn ondersoekspan aangestel om die saak te ondersoek. Dit is gelei deur genl.maj. Samuel Manala, die adjunk- provinsiale kommissaris,” sê Mojapelo.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 33 jaar oud, is ná “ʼn lang maar uitstekende ondersoek” op 19 Maart vanjaar in die Rwanda-nedersetting, naby Letsitele, vasgetrek vir die besit van vuurwapens en ammunisie. Die twee is broers wat in die Makwarela-nedersetting woon.

Die verdagtes word ook met tientalle ander misdade in Limpopo, waaronder gewapende rooftogte, moorde, ontvoerings en poging tot moord, verbind.

Ledwaba het die ondersoekspan geloof vir hul toegewydheid om die verdagtes vas te trek.

“Ons bedank ook lede van die gemeenskap wat die polisie deurlopend gehelp het,” het Ledwaba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

quartus ·

Besit van n vuurwapen en ammunisie, per se, is nie onwettig nie. Dit is eers onwettig as jy nie n vuurwapenlisensie het nie

Blikkies ·

Wonder maar net of hulle ook elkeen met n R500 Randjies vir jou op Borgtog gaan stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.