Verdagtes vas ná hulle man se gekaapte motor terugbesorg

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met ʼn voorval waartydens ʼn 38-jarige man van die Noord-Kaap ontvoer en beroof is waarna die verdagtes sy gekaapte voertuig aan hom terugbesorg en op die vlug geslaan het.

Lt.kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê die man was glo vanaf Kuruman op pad na Kathu toe die voorval Sondagaand laat plaasgevind het.

Volgens die man se verklaring het hy rylopers opgelaai wat kort daarna ʼn pistool uitgehaal en sy motor gekaap het.

“Die verdagtes het hom vasgebind en toe in die kattebak van die motor ingeboender. Hulle het hom na bewering van persoonlike items, wat onder meer ʼn selfoon insluit, beroof, waarna hulle hom later die aand in Taung afgelaai het,” sê Myburgh.

Sy sê die man het in ʼn veld rondgedwaal voordat die verdagtes hom Maandagoggend vroeg weer opgelaai en met hom rondgery het. Volgens haar het hulle later sy voertuig aan hom terugbesorg en toe op die vlug geslaan.

“Die man het na ʼn vulstasie in Taung gery en toe die polisie na die toneel ontbied,” sê sy.

Myburgh sê een verdagte is Maandag in hegtenis geneem en het Woensdag voor die Kuruman-landdroshof verskyn. ʼn Tweede verdagte is Woensdag in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag in die Hartswater-landdroshof verskyn. Myburgh sê die tweede verdagte word reeds verbind met twee sake van gewapende roof.

Lt.kol. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris in Noordwes, het die Noordwes- en Noord-Kaap-polisie geprys vir hul samewerking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Herman ·

Hierdie insident vergelyk vir my nogal met die doodskissaak. Gaan hierdie boewe ook aangekla word van rassisme, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord, ens. Gaan hulle ook nie borgtog kry nie en ook vonnisse van minstens 15 jaar elk?

Cherokee ·

Dit is nou dankbaarheid! Hulle gee hom ‘n lift en gee toe sy kar vir hou terug en steeds kla hy hulle aan!

Spikkel ·

Ek ruik n rot. Iets maak nie sin nie. Daars meer aan d storie. Wag en kyk

Alet ·

Sal mense nooit leer nie,in vandag se tyd laai jy nie rylopers op nie,maak nie saak wie dit is nie,dan soek jy mos moeilikheid

Helen ·

Die storie is n bietjie te dik vir n daalder iets is nie lekker hier nie!

Freud ·

Dwaal vir ‘n hele nag in die veld rond en hulle pik hom weer op die volgende oggend?? Really!!!! As mens die storie moet sluk kan jy net lag want die hele gedoente maak geen sin nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.