Verdagtes vas ná moord op Worcester-juwelier

Charl Munnik (Foto: Facebook)

Drie verdagtes is sedert die moord op Charl Munnik (44), die eienaar van Munnik Juweliers in Worcester in die Wes-Kaap, vasgetrek.

Volgens kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, is een van dié drie verdagtes vrygelaat en die ander twee sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Worcester verskyn.

“Meer inhegtenisnemings word binnekort verwag,” het Traut aan Maroela Media gesê.

Soos vroeër berig vier gewapende mans het Vrydag omstreeks 09:30 die juwelierswinkel in Hoogstraat in Worcester betree. Hulle het ’n personeellid in die winkel met vuurwapens gedreig.

Munnik, die eienaar van die winkel en ook ’n bekende sakeman op die dorp, is tydens die rooftog noodlottig gewond.

Die verdagtes het van die toneel af gevlug met ’n onbekende bedrag geld.

’n Saak van moord en sakeroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Ai ons wereld word alhoe moeiliker met die misdadigers. Maar hoe weier jy n klient in jou winkel en hoe weet jy dit gaan met jou gebeur. Klink my alle winkels sal deesdae metaal verklikkers moet hê waardeur kliente moet stap voordat jy die winkel betree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.