Verdagtes vas ná twee Pta-rooftogte

Die voertuig waarmee die verdagtes gery het. Foto: Verskaf

Twee verdagtes is Donderdag in Pretoria in hegtenis geneem nadat hulle vroeër die dag glo twee huise onderskeidelik in Garsfontein en Sinoville beroof het.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê beamptes van die Pretoria-Sentraal-polisie was teen 14:30 besig met ʼn roetine patrollie toe hulle ʼn swart Mercedes Benz opgemerk het wat roekeloos bestuur word.

“Die polisie het die voertuig agternagesit en ʼn kort jaagtog het gevolg. Die bestuurder van die Mercedes het op die hoek van Du Toit- en Madibastraat beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn Toyota Quantum-minibustaxi gebots,” het Selepe gesê.

Twee mense het uit die voertuig gespring en te voet probeer vlug, waarna die polisie hulle vasgetrek het.

“Die verdagtes se voertuig het vervalste nommerplate opgehad. Die voertuig is deursoek en die polisie het beslag gelê op toerusting wat gebruik word om by huise in te breek, ʼn ongelisensieerde vuurwapen en gesteelde huisware.”

Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 36 jaar oud, moet binnekort in die hof verskyn op aanklagte van die besit van ʼn gesteelde voertuig, die besit van gesteelde goedere en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Verdere ondersoek word gedoen om vas te stel of die verdagtes met ander misdrywe verbind kan word. Die vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur. Meer aanklagte kan moontlik bygevoeg word namate die ondersoek vorder.

Van die toerusting waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Beïndruk ·

“Well done” Sentraal SAPD – dis hoe dit gedoen moet word! Dit stuur ‘n sterk boodskap uit na misdadigers dat die SAPD wel nog sterk staan en misdaad in ons stad nie gaan duld nie. Wie die beamptes ookal al was, wens daar is meer van julle kaliber, julle is ysters. Trots op julle!

Goeie werk Polisie ·

Goeie werk Polisie, jul gee mens hoop, wens net alle Polisie beamptes wil so hul werk ernstig opneem.

Koos1 ·

Moet asb nie vergeet van die privaat sekuriteit maarskappy wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het, om die skelms vas te trek.

Cherokee ·

Gebrek aan opleiding. Dit behoort geken te wees dat mense met Mercs hoef nie in te breek nie.
Phillip Bruwer, dankie dat jy die nie ‘n ‘verdagte voertuig’ genoem het nie (wat niemand nog kon beskryf nie) maar verduidelik het dat dit gevolg was omdat dit roekeloos bestuur was. Jy’s die joernalis van die dag sommer vroeg in die oggend. (en as jy my kommentare weer in die snippermandjie gooi trek ek die toekenning terug!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.