Verdagtes vas oor trop gesteelde skape

Die verdagtes is met 27 merino-skape betrap, nadat 100 skape van ʼn plaas in Ficksburg gesteel is (Foto: Verskaf)

Drie vermeende veediewe wat glo ’n trop skape gesteel het, is Sondag in Ventersburg in die Vrystaat aangekeer. Die skape is sowat R67 500 werd en is op ’n plaas in die Ficksburg-omgewing gesteel.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het omstreeks 09:20 die drie verdagtes in ’n wit Toyota-bakkie met ’n sleepwaentjie by die Total-vulstasie op die dorp voorgekeer. Die bakkie het ’n GP-nommerplaat gehad.

“Daar was altesaam sewe vleismerino-skape in die bakkie en 20 op die sleepwa gelaai,” sê Makhele.

Makhele sê die verdagtes het kwansuis ’n sertifikaat om die skape te vervoer by hulle gehad, maar inligting op dié sertifikaat was onvolledig. Die polisie het onraad vermoed en die verdagtes na die polisiestasie geneem vir ondervraging.

“Volgens ʼn voorlopige ondersoek was die sertifikaat wel vervals. Die drie verdagtes, onderskeidelik 35, 39 en 43 jaar oud, is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van veediefstal. Die bakkie, sleepwaentjie en skape is gekonfiskeer.”

Die saak is aan die Ventersburg-polisie se veediefstal-eenheid oorhandig vir verdere ondersoek.

Die saak is aan sers. Mojalefa Mota toegewys, wat vasgestel het dat die skape op ʼn plaas in die Ficksburg-omgewing gesteel is.

“Volgens die boer is 100 van die skape op sy plaas gesteel. Hy het dus net 27 van dié skape teruggekry.”

Enige iemand met inligting rakende die oorblywende gesteelde skape kan sers. Mota by 078 044 7011 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peetjie ·

Laag en gemeen en dan mag die boer nie sy eiendom beskerm nie..

Rudolph ·

Dit maak geen verskil vir die skape nie. Hulle kan net verloor

Nico ·

Dit is presies wat hierdie mense doen, is te lui om te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.