Verdagtes vas vir KwaMashu-moorde

Die KwaMashu-wooneenhede noord van Durban. Foto: http://ulwazi.org/

Die KwaMashu-wooneenhede noord van Durban. Foto: http://ulwazi.org/

Vyf verdagtes is Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem vir die moord op twee mans by die berugte KwaMashu-wooneenhede noord van Durban.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die vyf verdagtes, tussen 22 en 35 jaar, sal op 11 Augustus in die Ntuzuma-landdroshof verskyn.

Twee mans is in Oktober 2014 binne ʼn week by die KwaMashu-wooneenhede vermoor. Mpilo Magubane (25) se liggaam is op 18 Oktober omstreeks 22:00 by ʼn huis in die gebied gekry. Hy is vermoedelik met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. ʼn 29-jarige verdagte is vir die moord in hegtenis geneem.

Op 24 Oktober is Senzo Shangase (24) se liggaam in dieselfde omgewing ontdek. Sy hande was agter sy rug vasgebind en hy is aangerand en aan die brand gesteek. Vier mans is vir Shangase se moord vasgetrek.

Naicker het gesê daar sal ondersoek word of enige van die vyf verdagtes met ander moorde by die KwaMashu-wooneenhede verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.