Verdagtes vas wat glo koeriers teiken

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Die Gautengse polisie glo hulle het ʼn deurbraak gemaak in die soektog na ʼn bende rowers wat veral koeriervoertuie teiken.

Vier verdagtes wat verbind word met verskeie voorvalle van gewapende roof in die provinsie waar dié voertuie spesifiek geteiken is, is Vrydag in hegtenis geneem.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het inligting ontvang dat die verdagtes glo ʼn rooftog in Fourways, Johannesburg, beplan. Hulle sou vermoedelik in ʼn wit Toyota Prado toeslaan.

Polisiebeamptes verbonde aan onder meer die honde-eenheid, intelligensie-eenheid, opsporingseenheid en lede van private veiligheidsmaatskappye het die verdagtes opgespoor en dopgehou.

Terwyl hulle met dié waarneming besig was, het die verdagtes in die voertuig by ʼn perseel uitgery.

“Die voertuig is voorgekeer en deursoek en die polisie het twee gelaaide vuurwapens en ʼn seinsteurder (‘jammer’) gevind,” het Masondo gesê.

Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die voertuig vroeër in Eldoradopark gekaap is en verbind word met verskeie gewapende rooftogte, veral waar koeriervoertuie geteiken is.

Die vier verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van ʼn vermoedelik gesteelde voertuig en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Nog aanklagte kan later teen hulle aanhangig gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Debbie ·

Nie eens ons ou pakkies wat ons aanstuur is meer veilig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.