Verdagtes verskyn in hof oor gesteelde spoorstawe

Die treinspoor waar die spoorstawe en dwarsbalke gesteel is. (Foto: Verskaf)

Ses mense het Vrydag in die Grabouw-landdroshof verskyn in verband met die diefstal van spoorstawe en dwarsbalke, het die Wes-Kaapse polisie gesê.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf mans en een vrou, tussen die ouderdomme van 27 en 42 jaar oud, het op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die hof verskyn.

Dít volg nadat hulle Woensdag in hegtenis geneem is toe hulle in besit van spoorstawe, dwarsbalke en skroewe ter waarde van R93 000 naby die Steenbrasdam naby Grabouw betrap is.

Volgens Van Wyk is twee verdagte motors, ʼn Isuzu en ʼn Mitsubishi, gedurende ʼn patrollie deur lede van die Hottentots Holland-natuurreservaat naby die treinspoor gewaar. Die lede het polisiebeamptes na die toneel ontbied waar die verdagtes op die plek in hegtenis geneem is. Die polisie het ook op die motors beslag gelê.

Van Wyk het die lede van die natuurreservaat bedank vir goeie werk aangesien ʼn trein veronderstel was om die spoorlyn op dié dag te gebruik. “Die trein kon genadiglik betyds gekanselleer word om ʼn ramp te vermy,” het hy gesê.

Die skade aan noodsaaklike infrastruktuur van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) beloop reeds duisende rande in skadevergoeding asook miljoene rande se verlies aan inkomste, het Van Wyk gesê. Pendelaars word ook deur misdaad van dié aard gestrand gelaat en is dan kwesbaar vir misdade soos roof en diefstal.

Die treinspoor waar die spoorstawe en dwarsbalke gesteel is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Solank daar kopers is, gaan hierdie tipe diefstal voort. Dieselfde met mangat-deksels. Orals is oop mangate in die Weskaap. Wie koop hierdie produkte? Dis tyd dat skrootwerwe deeglik deursoek word!

Gert de Jager ·

Verkoop hul voertuie as deel van die straf. Verder moet hul met hande arbeid die spoor (onder gewapende toesig soos in die ou Cowboy flies) herstel. Die tyd wat dit neem kan dan van die Vonnis-tydperk afgetrek word!

Cherokee ·

Hanna Hoekom vergelyk jy diefstal van mangatdeksels met spoorstawe? Oop mangate kan miskien een persoon seermaak maar dink aan wat kan gebeur wanneer ‘n trein ry waar nie spore is nie. Hulle behoort dit te besef maar emosie skort. Hulle is emosieloos.

Cherokee ·

Maar Hanna, tog gee ek toe. Solank daar ‘n mark is. ‘n Oop mangat in ons straat het my effe meer as ‘n jaar geneem om die munisipaliteit te oortuig om reg te maak.

Gert ·

So word die infrastruktuur wat deur ons geskep is stukkie vir stukkie afgetakel.

Rm ·

Maak die besit v spoorstawe net so onwettig soos ongeslypte diamante, so maklik soos dit, maar die staat is om een of ander rede traag om dit te doen, enige staatseiendom, moet onwettig wees om in privaatbesit te wees

Cherokee ·

Dan moet die besit van lokomotiewe òòk onwettig wees! Hòe gaan my treine ry?

Clyd ·

Ek het sowat drie jaar gelede n 50cm lange stuk soiirstaaf by n skroot metaal winkel gekoop as skrootyster. Ek het nog die kwitansie.

Johanna Botha ·

So val die hele land uitmekaar ! As mense net kan sien in watse benarde toestand Rtbg is dan weet mens nie wat hier gaan gebeur nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.